Hoof dra skool na nuwe hoogtes

LUTZVILLE: Jy kan nie deur dié dorpie ry sonder om Hoërskool Lutzville te bewonder nie. Die pragtige skoolgronde staan trots tussen die wingerde en met goeie rede – die skool het vir die laaste 20 jaar ‘n 100% slaagsyfer onder matrieks. Dit is net een van dié spogskool se vele suksesse. Ons Kontrei het gaan gesels met die baas van diè “plaas”. Marlida Lombard is nou al vir meer as 10 jaar die skoolhoof en ook die eerste vroulike hoof van die skool. Voordat sy onderwys gaan studeer het by Universiteit Stellenbosch, het sy as kind in Vanrhynsdorp grootgeword. “Omdat ek oorspronklik van die area is, lê dit baie naby aan my hart. Ek kan nie dink dat ek so gelukkig sou kon wees by enige ander skool nie. Hier is sout van die aarde mense en daar is ‘n waardering vir ‘n eenvoudige lewe.”

Lombard verduidelik dat haar doel nog altyd was om haar werk as onderwyser tot die beste van haar vermoë te doen. “Ek het uitstekende onderwysers gehad op skool en dit is wat my geïnspireer het om die beroep te kies. Ek glo onomwonde dat die toekoms van ons mooi land in die opvoeding van ons jeug gesetel is.” As onderwyser het Lombard Geskiedenis en Afrikaans aangebied. “Ek is vreeslik lief vir Afrikaans en ek is passievol daaroor om die klas vir die leerders lekker te maak sodat hulle ook ‘n liefde kan ontwikkel vir die taal.” Sy word later aangestel as departementshoof en sy besef sy geniet die nuwe rigting waarin haar loopbaan beweeg. “Ek het daarvan gehou om besluite te kan maak en om bietjie inisiatief te kan neem.” In hierdie tyd het sy onwetend baie oor haar toekomstige beroep by die voormalige hoof, Chris Fourie geleer en sien sy hom as ‘n mentor op hierdie gebied. “Toe die leiersposisie as skoolhoof beskikbaar word by ‘n skool wat ek al klaar so lief het, het ek die kans dadelik aangegryp. En ek is nog nie een dag spyt nie.”

Haar tyd as skoolhoof het natuurlik ook ‘n paar uitdagings gebied. “Ek onthou met my onderhoud het iemand gevra, ‘Hoe sal die seuns reageer teenoor ‘n vrou as skoolhoof?’ Ek het by myself gedink: ‘Hoe het die dogters al die jare gevoel om ‘n man as skoolhoof te hê?’” Sy vertel dat haar passie vir sport help haar beslis om met die seuns ook ‘n verbintenis te vorm.

Die beste raad wat sy vir al haar leerders kan gee is: Die lewe is onregverdig, leer om daarmee saam te leef. En: “Klim op die bootjie.” Dit was ook een jaar die skool se tema. Sy verduidelik dit beteken dat kinders moet elke geleentheid wat oor hulle pad kom aangryp. “Op ‘n sekere ouderdom kan jy sekere dinge doen wat jy nie later in jou lewe sal kan doen nie. Ek voel dat sekere mense net wag om dood te gaan, in plaas daarvan om voluit te lewe.” Sy het self in haar vroeër jare op die bootjie geklim en geleenthede aangegryp soos toe sy die Comrades Marathon gehardloop het of op stap- en netbalbaltoere sou gaan.

Wanneer sy terug dink aan haar tyd by die skool is daar ‘n paar herinneringe wat dadelik haar hart warm maak, onder andere die tye wat Lutzville interskole gewen het. Al die leerders, personeel en ouers sou op die veld hardloop en die ongelooflike oomblik deel deur saam die skoollied te sing.

‘n Ander herinnering hang teen die muur van haar kantoor. Dis ‘n toekenning wat sy van die skool ontvang het toe sy 10 jaar as skoolhoof gedien het. “Ek voel nie dat ek altyd erkenning verdien of nodig het vir wat ek doen nie, maar dis goed om soms te hoor dat jy iets reg doen. Niemand is perfek nie, ons maak foute. Maar ons moet leer en groei uit die foute wat ons maak.” Vir Lombard is die grootste motivering om te sien hoe leerders se karakter groei en ontwikkel. Daar is baie kosbare herinneringe, dit wissel net van groot na klein.

Jesaja 40:31 sê: “…maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke…” Dit is ‘n vers wat Lombard baie na aan haar hart dra. In uitdagende tye keer sy altyd terug na die vers en dit herinner haar om ‘soos ‘n arend’ bo die situasie uit te styg.
Lombard skakel af deur te gaan stap saam met Fiela, Olof, Emmie en Vlekkie, haar geliefde honde. “Dit is die tyd in die dag wat ek met myself en met my Skepper praat, dit is hoe ek my kop skoon kry.”

“Die skool was verlede jaar 75-jaar oud en in nederigheid en diepe dankbaarheid assosieer ek met die skool se “Feeslogo”: ONS SKOOL, ONS TROTS – AAN GOD AL DIE EER.”