VREDENDAL: Die naweek van 3 tot 5 September het drie van Vredendal Sagtebalklub se O/12 dogters aan ‘n HPC in Lavender Hill deelgeneem. Hier is hulle blootgestel aan sterk kompetisie van verskillende distrikte van dieselfde ouderdomsgroep.
Lee-Ann Swarts (Vredendal-Noord Primêr), Muneshré Cloete (Vredendal-Noord Primêr) en Jenni-Leigh Owies (Vergenoeg Primêr) is deel van die 30 spelers wat Saterdag gekies is. Hulle moes Sondag teen mekaar speel om sodoende die beste 14 vir die Wes-Kaap te kies.
Hier het Cloete haarself bewys en is in die Wes-Kaap span opgeneem. Die ander twee is steeds deel van die top 24 span.
Hierdie dogters het Vredendal op die kaart geplaas. Dis ‘n groot voorreg en ‘n eer vir Cloete om uit Vredendal te kom en in die Wes-Kaap span opgeneem te word.
Te midde van die uitdagings wat die span het om op ‘n stuk dorbank veld te oefen en die stof te verduur, het sy die span gehaal. Dit het nie verhoed dat sy hoogtes bereik nie.
Sy word weekliks vir haar oefening na Lavender Hill vervoer om haar sagtebalvaardighede te verbeter. Die bestuur is baie trots op haar en so ook op elke ander speler. Die bestuur glo “a Child in Sport is a Child out of Court.”
Sagtebal is vir alle ouderdomsgroepe. Belangstellendes kan steeds Maandag tot Donderdag 16:00 tot 18:00 saam oefen.
Vir enige skenkings, soos skoene, sokkies, sportklere, handskoene en kolwe kan Carine Cloete, 079 954 9153 gekontak word.