VANRHYNSDORP: Die woord funduro is ‘n kombinasie van die woorde “fun” en “enduro”. ‘n Enduro is ‘n langafstand resies wat uithouvermoë verg, eerder as spoed. ‘n Deelnemer doen ‘n fundero net vir die pret. Daar is geen wenners of verloorders nie, slegs ‘n liefde vir die sport en natuur.
Vanrhynsdorp Funduro word al vir die laaste 14 jaar deur Kelly de Villiers gereël. Verlede jaar moes hulle dit, soos alle ander geleenthede regoor die wêreld uitstel weens Covid, maar in 2021 het hulle volspoed teruggekeer. Dit het op Saterdag, 25 September plaasgevind en was ‘n reuse sukses. Hierdie jaar was daar ‘n totaal van 103 inskrywings, waarvan ongeveer 10 kinders was. Deelnemers het van so vêr as Pretoria en Hermanus gereis om deel te neem aan die pret.
Die roete begin by Grootdrift plaas, buite Vanrhynsdorp. Die totale afstand is 56km. Deelnemers kan die sirkelroete soveel keer doen soos dit hulle pas tussen 09:00 en 13:00.
De Villiers vertel die werk om die roete uit te lê begin al twee maande voor die tyd. Hy en ander organiseerders ry elke Sondag die roete om dit uit te merk. Wat vir hulle baie belangrik is, is om nie die natuur te veel te versteur nie. Hulle gebruik meestal net paaie wat reeds deur land-bouprodusente uitgery is, of selfs paaie wat gevorm word deur vee.
De Villiers wil graag al die borge bedank wat ‘n bydrae gemaak het, eienaars van die grond waaroor hulle die roete beplan het en ook die eienaars van die plaas Knersvlakte.