Sandveld-kommando samel R80 000 in vir tehuise

LEIPOLDTVILLE: Die Sandveld-kommando is ‘n jaarlikse liefdadigheidsgebeurtenis waar natuurliefhebbers en perderuiters van regoor die streek, en selfs verder, bymekaarkom om fondse in te samel vir ouetehuise. Hierdie jaar was daar ruiters vanaf Paarl, Langebaan en Calvinia wat deelgeneem het. Henno Visser en sy niggie, Riana van Rensburg is die voorperde van hierdie geleentheid en reël dit al vir die afgelope 3 jaar.
Hierdie jaar was daar 43 perde wat die stofpad gestap het. Ongeveer 80 persone was die Vrydagaand teenwoordig en 65 die Saterdag, waarvan omtrent 10 kinders was.
Die naweek se verrigtinge verloop as volg: Vrydag kom almal bymekaar op Visser se plaas, te Bradenburg. Die groep beweeg dan omtrent so 3km in die veld in na ‘n stoor, waar daar die aand gedans, gebraai, gekuier en gekamp word. Daar is ook vermaak aangebied deur Amoré Rudman wat opgetree het. Saterdag word die 30km sirkelroete afgelê waar hulle oor verskeie plase gaan en dan stop vir verversings, onder andere by Donkieskraal en Sandberg. Die roete sluit dan weer af by Bradenburg.
Fondse word ingesamel deur middel van inskrywingsfooie, ‘n klein veiling wat oor die naweek gehou word en ook borge. Met die eerste kommando is daar R10 000 ingesamel en met die tweede een het fondse vermeerder na R51 000. Vanjaar is daar ‘n indrukwekkende R80 000 ingesamel. Hierdie totaal sal gedeel word in 4 en aan Sederville Tehuis vir Bejaardes en Sederhof in Clanwilliam en Somerkoelte en Huis van Liefde in Lambertsbaai geskenk word.
Wilna Fredericks, bestuurder van Sederville Tehuis vir Bejaardes wil graag namens die tehuis en bestuur baie dankie sê aan die organiseerders van die geleentheid vir alles wat hulle vir die gemeenskap doen en wens hulle alle voorspoed toe vir die toekoms.
“Verskriklik baie dankie. Dit is ‘n dierbare gebaar van Henno Visser. Hierdie skenking kom op ‘n baie goeie tyd en ons is opreg dankbaar,” sê Mariette Groenewalt van Somerkoelte.
Ella Bordy van Huis van Liefde het haar dankbaarheid vir die skenking gedeel en vertel dat sy in trane uitgebars het toe sy die kennisgewing van die bank op haar foon ontvang. “Daar is nog goeie mense in die wêreld. Mag God hulle seën op hulle pad vorentoe.”
Sederhof Tehuis vir Bejaardes wil graag almal bedank wat byge dra het.