Onse Kaia Algemene Jaarvergadering

VREDENDAL-NOORD:  Onse Kaia is ‘n sentrum vir hawelose volwassenes en ‘n geregistreerde organisasie sonder winsbejag. Die doel van die organisasie is om hawelose volwassenes wat op straat is, ‘n veilige plek te gee, hulp te verleen indien rehabilitasie nodig is en die nodige ondersteuning te bied sodat hulle weer onafhanklik in die samelewing kan funksioneer of weer met hulle families versoen.

Die projek word gedeeltelik befonds deur Departement van Sosiale Ontwikkeling (DSD), maar is meestal afhanklik en dankbaar vir skenkings en fondsinsamelings. Indien inwoners SASSA geld ontvang of ‘n inkomste, word ‘n gedeelte daarvan gebruik om die kostes te dek, soos daar vooraf met inwoners ooreengekom word.

Hawelose persone kry 3 maaltye, ‘n warm stort, toiletware, skoon klere, beddegoed en ‘n handdoek wanneer hulle in die projek is. Carl Roems is die projekbetuurder en het ‘n span van 3 mense wat hom help om die perseel te bestuur, orde te handhaaf en dienste aan die haweloses te voorsien. Daar is 24 uur per dag / 365 dae ‘n jaar ‘n personeellid op die perseel.

Fifi Kotzee, maatskaplike werker, help inwoners om aansoek te doen vir identiteitsdokumente en ook aansoek te doen vir SASSA geld. Wanneer ‘n persoon opgeneem word in die projek word daar ‘n onderhoud met hom/haar gevoer. Die behoeftes van die individu word dan bepaal asook die pad wat gestap sal word tydens die tydperk wat die persoon in die Onse Kaia is.

Daar is tans 4 inwoners wat nie kan aansoek doen vir identiteitsdokumente nie, wat tot gevolg het dat hulle nie kan aansoek doen vir werk nie. Volgens Kotzee, bring hulle hulle kant deur klein werkies rondom die perseel te doen. Daar is ook 2 inwoners wat in die skool, oorkant die pad, se tuin werk en soms groente skenkings vanaf die skool ontvang.

Alle skenkings word met dankbaarheid ontvang. Dit word dan onder inwoners gedeel. Indien daar te veel is van een skenking, of daar is skenkings wat die inwoners nie kan gebruik nie, byvoorbeeld skoene wat te groot is, word dit dan aan ander organisasies geskenk of verkoop om fondse in te samel.

Om seker te maak dat daar ‘n vreedsame atmosfeer in Onse Kaia heers, is daar huisreëls wat streng toegepas word. Die reëls is baie dieselfde as in ‘n koshuis. Onder andere is daar die reël dat geen drank of dwelms op die perseel toegelaat word nie. Indien daar vermoed word dat een van die inwoners onder die invloed van ‘n middel is, is daar dwelm- en alkoholtoetse wat hulle moet doen om te bepaal of hulle wel die reëls gebreek het.

Nadat die koshuis, wat West Coast College studente se primêre bron van akkommodasie was, afgebrand het, huisves Onse Kaia ook hawelose studente, hoofsaaklik dames, met die mede wete van DSD. Hierdie studente moet dieselfde reëls nakom as die ander inwoners en dra geldelik by tot die dienste wat hulle geniet.

Indien enige iemand die huis-reëls drie keer breek, word die diens wat Onse Kaia aan hulle bied beëindig en moet hulle die perseel verlaat. Onse Kaia maak nie voorsiening vir paartjies nie bloot omdat dit nie moontlik is nie. Daar is ‘n mans-kant en ‘n dames-kant met eie ablusie geriewe.

Ons Kaia ervaar tans ‘n ander kopseer. Die perseel loop deur onder vandalisme en diefstal. Daar word gereeld gedeeltes van die omheining verwyder wat dan met draad vervang moet word. Ons wil graag die publiek en besighede versoek om aan ons ‘n skenking te maak dat ons die heining kan vervang.

Onse Kaia is geregistreer by SARS as ‘n “Public Benefit Organisation” (PBO) en daarom kan ons vir jou skenking aan Onse Kaia ‘n 18A kwitansie uitreik wat jy dan van jou SARS aanslag kan aftrek – so eintlik skenk SARS die geld namens jou.

Die Algemene Jaarvergadering van Onse Kaia is 21 Oktober 2021 in die Vredendal-Noord Biblioteeksaal en jy is welkom om dit by te woon.