Voëlgriep onder bedreigde trekduikers

WESKUS: SANCCOB en Departement Bosbou, Visserye en Omgewingsake berig dat daar ‘n ernstige uitbraak van voëlgriep onder die bedreigde trekduikers is. Die voëlgriep beïnvloed kolonies van die seevoëls teen die Weskus. In die kolonies wat die ergste geraak is, het honderde voëls reeds aan die siekte gevrek. HPAI is ‘n hoogs aansteeklike virussiekte by voëls en daar is geen genesende of voorkomende behandeling daarvoor nie.
SANCCOB, CapeNature, SANParke, Weskus Distriksmunisipaliteit, plaaslike munisipaliteite, verskeie ander omgewingsorganisasies en plaaslike veeartse werk saam om die situasie te monitor en te bestuur. Die H5N1-stam van die HPAI-virus is in Mei 2021 in wilde voëls in die Wes-Kaap aangetref wat veral meeue aangetas het. Die eerste trekduikers is eers middel September gediagnoseer en hierdie gevalle het die eerste week van Oktober baie vinnig toegeneem. Die kolonies wat die ergste geraak is, is die op Dyereiland en naby Velddrif. Nou-keurige toesig word uitgevoer oral waar trekduikers bymekaarkom.
Die dooie voëls word veilig en onder streng toesig verwyder en siek voëls word van kant gemaak omdat behandeling van aangetaste voëls nutteloos is en ‘n ernstige risiko vir die verspreiding van siektes inhou.
Die tekens van voëlgriep by seevoëls kan wissel van mak gedrag, swakheid, verlies aan balans, swem in sirkels of kry spiertrekkings en aanvalle. Abnormale getalle siek voëls kan by u plaaslike bewaringsowerheid of staatsveearts aangemeld word. Moet onder geen omstandighede vermoedelik siek gevalle hanteer as u kontak met ander voëls het nie. Dra weggooibare handskoene en gesigbe-skerming indien nodig. Alhoewel daar die afgelope 30 jaar ‘n paar gedokumenteerde gevalle was, word die risikovlak vir mense om die siekte op te doen as laag beskou, maar mense kan die virus op hul hande en klere dra. Menslike simptome kan wissel van ligte griepagtige simptome tot longontsteking. Mense wat die simptome ontwikkel, na kontak met voëlgriep, kan getoets word.
Indien enige iemand berigte ontvang van pikkewyne of ander seevoëls wat ongewoon optree, maak onmiddellik kontak met SANCCOB of hul naaste rehabilitasiefasiliteit vir seevoëls. Indien moontlik reël vir genadedood en die moontlike toetsing van die voëls. Teken altyd aan waar die voël die eerste keer waargeneem is, asook die tekens wat die voël getoon het. Sedert Mei die jaar is ‘n verskeidenheid seevoëls met neurologiese simptome na die SANCCOB sentrum in Table View gebring en is bevestig dat hulle voëlgriep het. Siek voëls moet dadelik geïsoleer word om die verspreiding na ander voëls en mak pluimvee te verhoed.
Inwoners langs die kusgebiede van Elandsbaai en Lambertsbaai word versoek om enige voorvalle van siek voëls by die omgewingsbeampte, Danne Joubert, by Cederberg Munisipaliteit 027 482 8000 aan te meld. Volgens Eve Chesselet, van die Voëleiland op Lambertsbaai, is daar nog geen tekens van die gevreesde siekte op die eiland nie en die situasie word streng gemonitor.