Kanker, hou verby!

LUTZVILLE: Oktober is borskanker bewusmakingsmaand. Borskanker is dalk vir baie die olifant in die vertrek. Dit is ‘n onderwerp wat meeste eerder wil vermy uit vrees dat hulle onsensitief sal voorkom. Sumarie Geldenhuys, wat borskanker oorwin het, voel dis nonsens.
In September, 2016 gaan sy na ‘n dokter om moesies te verwyder. Sekere moesies was onder haar borste en dit is toe dat die dokter ‘n knop in een van haar borste ontdek. Geldenhuys word beveel om onmiddellik vir ‘n biopsie te gaan. “Ek het vir die dokter gesê dat dit sekerlik nie so ernstig kan wees nie. Ek het geen geskiedenis van kanker in my familie nie,” vertel Geldenhuys
Twee weke later is Geldenhuys Kaap toe sodat dokters ‘n dun-naaldbiopsie kon doen. Die eerste gedagte was dat sy slegs ‘n abses in haar bors het, maar met verdere ondersoek was dit duidelik dat daar abnormale selle was. Daarna volg ‘n dik-naaldbiopsie. Hierdie prosedure is nie speletjies nie en Geldenhuys vertel laggend dat haar man amper flou geval het. Dié toets bevestig dat Geldenhuys die grootste uitdaging van haar lewe sou moes aanpak: kanker.
Geldenhuys vertel hoe sy in “survival mode” gegaan het en haar hele huis begin regpak het. Sy het alles gemerk en vir haar man verduidelik waar alles is en hoe alles werk vir in geval sy nie weer terug kom nie.
In Maart, 2017 ondergaan sy ‘n halwe mastektomie. ‘n Paar maande later, in Mei besluit die dokters om eerder die ander helfte en ook van die kliere te verwyder. Daar word geglo dat die kanker alles verwyder is, dus word daar nie vir haar verdere behandeling voorgeskryf nie.
In 2018 gaan sy vir ‘n opvolgbesoek in die Paarl. Volgens die dokter was dit ‘n groot fout om nie verdere behandeling te ontvang nie, aangesien sy trippelnegatiewe borskanker het. Die mediese span plaas haar dadelik op 6 sessies chemo en 16 sessies bestraling.
In Oktober 2019 ontdek sy ‘n klein verdikking van vel in die middel van haar bors. Hulle doen toe ‘n biopsie en verdere toetse bepaal dat dit presies dieselfde kanker is wat sy voorheen gehad het.
Die dokter wil eers slegs die knop verwyder. Teen hierdie tyd is sy so moeg vir hospitale en operasies dat sy aan die dokter sê dat hulle alles moet verwyder.
Covid-19 se koms beteken dat sy die res van die pad alleen moet stap aangesien haar man nie in die hospitaal toegelaat word nie. Sy word weer Junie, 2020 geopereer waar hulle haar wense respekteer.
As gevolg van stygende Covid-gevalle gee die hospitaal vir kankerpasiënte die opsie om hulle hersteltyd by die huis te spandeer waar hulle deur middel van Skype elke dag pasiënte kontak en aanlyn ondersoek.
By die huis begin sy oplet dat die sny al hoe vreemder en donkerder vertoon. Sy voel ook nie gesond nie en besluit om na haar plaaslike dokter te gaan. Dié dokter stuur haar dadelik hospitaal toe. Die sny het gangreen ontwikkel en sy is in gevaar om in septiese skok te gaan. In Vredendal Hospitaal sny hulle die geïnfekteerde gedeelte uit.
Geldenhuys glo dat ons moet leer uit die dinge wat met ons gebeur. “Dit klink dalk nou vreeslik ‘cheesy’, maar as dit nie vir die siekte was nie, was ek nie vandag in die posisie waarin ek is nie. Wanneer ek gaan vir my opvolgbesoeke, kan ek dadelik sien watter pasiënte daar is vir die eerste keer. Jy sien die vrees in hul oë. Ek sal vinnig met hulle ‘n praatjie aanknoop. Ek sal met hulle deel waardeur ek gegaan het. Dis belangrik om te weet wat in jou liggaam gebeur. Ek moedig hulle aan om vrae te vra, want ek weet dat hulle ‘n hele lys van vrae in hulle kop het, maar wanneer die dokter met hulle praat en al die groot terme gebruik dan voel jy bang en geïntimideerd. So kan ek weer ander help deur hierdie aaklige tyd.”
Om positief te bly was nie altyd maklik nie. Aan die begin was dit baie swaar. “Ek dien ‘n liefdevolle God en as dit nie daarvoor en ook vir my man was nie, sou ek dit nie so goed hanteer nie. Hy was opreg toe hy my gerusstel dat hy vir my sal lief bly, maak nie saak wat nie. Dus sal ek nie vir rekonstruksie gaan nie. Ek is geestelik sterk genoeg om vrede te maak daarmee. Dit maak wel ander mense ongemaklik, maar ek hanteer dit deur daaroor te praat en die ongemaklikheid te breek. Ek sal selfs soms grap daaroor,” sê Geldenhuys. “As die kanker sou terugkom en ek oorleef dit nie weer nie, dan wil ek weet dat ek my lewe geniet het. Eerder as om te sit en treur oor die borste wat ek nie meer het nie.”
As sy ‘n boodskap aan kanker kon oordra sou alles dalk nie geskik wees om in die koerant te plaas nie. Wat sy wel sou kon sê is: “Kanker, jy mors jou tyd by my! ‘Move on!’ ”