VREDENDAL: Luwenda Buirman (46) is sterker as wat sy lyk. Sy is op 17 Oktober 2017 die eerste keer met borskanker gediagnoseer.
Sy het aan haar klere agtergekom iets is fout. Haar regterbors was groter as haar linker een en haar klere het onnatuurlik styf gesit, sy het ook moegheid en ongewenste eetgewoontes ervaar. Na selfondersoek in Julie 2017 het sy gedink die knop is net spierweefsel. In September het sy agtergekom dit is groter en het onmiddellik die dokter besoek wat haar vir ‘n mammogram verwys het. Die biopsie het ‘n kwaadaardige gewas gewys.
Buirman het onmiddellik met ses sessies neo adjuvante chemoterapie begin, en ‘n lumpektomie (‘n chirurgiese verwydering van ‘n diskrete gedeelte of knop van borsweefsel) gehad. Op 19 Maart 2018 ontvang sy weer vier sessies adjuvante chemoterapie en 7 weke bestraling. Die MRI het gewys sy is skoon.
Sy was vir twee jaar en agt maande in remissie. Gedurende die tyd het sy Covid-19 opgedoen en ook Stephan-Johnson Syndrome. In Junie 2021 toe Buirman vir haar jaarlikse ondersoek gaan, tel hulle limfklierknoppe in haar armholte op. Sy gaan weer vir ‘n biopsie, en daar kry sy die skokkende nuus, die kanker is terug. Tans is sy weer in die Kaap vir behandeling. Sy ontvang chemo, limfodeembehandeling en ook behandeling vir haar swak immuunstelsel.
Hoe het haar stryd teen die groot K haar lewe verander? “Ek maak die beste van elke Godgegewe oomblik saam met my kinders,” aldus Buirman. Sy leer om verby die snye, wonde en andersheid van haar lyf te kyk. Ek vergeet van my kaalkop, ja, vir ‘n tweede keer en weet dat my kinders, familie en hartsvriende steeds van my glimlag en lewenslus hou,” noem sy.
Haar lewenspassie word aangevuur deur haar positiwiteit, haar geloof en haar oneindige liefde vir mense en die lewe.
Die een ding wat sy wens sy geweet het voor sy met behandeling begin het, is dat sy beter na haarself en liggaamstaal moes geluister het. Buirman sê gesondheid is ‘n gawe van God en iets wat die meeste mense as vanselfsprekend aanvaar… totdat ons siek word.
Die moeilikste ding van haar ervaring is om so lank weg te wees van haar geliefdes. Sy moet die pyn, die trauma en besluite ten opsigte van haar behandeling alleen neem. Die chemo en die newe-effekte is net so moeilik. Sy noem dat gebed van ‘n wye ondersteuningsnetwerk haar dra, asook haar positiewe uitkyk en haar wilskrag om te lewe. Gebed gee haar hoop en entoesiasme, dit hou haar op koers en gee rigting aan haar denke… “EK WORD GESOND.”
Die advies wat sy vir iemand sal gee wat ‘n kankerpasiënt moet ondersteun, is om jou geliefde te besoek en deel van die reis te wees. Behou kontak en stuur boodskappe. “Maak jou skouers breër en huil saam, gedeelde seer is minder seer,” aldus Buirman. Bied hulp aan en wees spesifiek, sê byvoorbeeld vir die persoon jy bring iets heerlik saam om te eet, waarvan hou jy? Of bied aan om saam na ‘n chemosessie te gaan vir ondersteuning. Sy noem dat jy jou deur die persoon se reaksie en persoonlikheid moet laat lei. Respekteer die persoon se besluite en bid sonder ophou.
“Ek hou moed, hou vas, hou uit, ek hoop en bly weet dat God my nooit alleen laat nie. My pleidooi aan vroue, ook mans Ondersoek jouself gereeld, vroeë opsporing red lewens,” aldus Buirman.