Berig: Emma Boonzaier
Foto: Verskaf
VREDENDAL: Sekere inwoners mag dalk al opgelet het dat daar ‘n bekende gesig deur die strate van Vredendal beweeg. Simon Witbooi, ‘n kletsrymkunstenaar wat bekend staan as HemelBesem, het teruggekeer na sy geboortedorp om sy pa, Simon Witbooi Senior, te help.
Volgens Witbooi het sy pa R9000 gedeponeer by Lutzville First National Bank (FNB) OTM, maar die geld het nie in sy rekening verskyn nie. Hy moes daarna elke week, vir nege maande, ‘n voertuig huur om vanaf Lutzville, waar hy woonagtig is, na Vredendal te ry om by die bank uit te vind of hulle al die probleem opgelos het. Elke keer was dit onsuksesvol.
Witbooi het besluit dat hy sy pa moet help. Hy is amper elke dag voor FNB in Vredendal waar hy wag op Jacques Celliers, hoof-uitvoerende beampte van FNB, om sekere vereistes na te kom sodat sy pa, wie ‘n afstammeling is van !Nanseb Gâbemab, hoof van ǀKhowesin-stam, se eer herstel kan word. “Alle nodige dokumentasie en bewyse is oorhandig. Ons het tot nou toe die saak op hulle manier gehanteer en hulle taal gepraat. Nou verwag ons dat hulle ons tegemoetkom op ons tradisionele manier. Die slagspreuk lui immers, ‘…how can we help you?’”
Op hierdie dae gesels hy ook met inwoners wat hy op die straat teëkom en luister na hulle stories. Baie van hierdie gesprekke word opgeneem en op Facebook geplaas. “Ek verkies om alles af te neem sodat mense kan sien ek is deursigtig en het niks om weg te steek nie,” verduidelik hy.
Witbooi maak al musiek sedert 1997. Hy het in Blackheath grootgeword en gematrikuleer. Na skool het hy ‘n loopbaan as pastoor gevolg. Hy het teologie in onder andere Amerika en Brittanje studeer en ook verder in Afrika lande gewerk as pastoor voordat hy in 2011 besluit het om musiek sy loopbaan te maak. Musiek is iets waarmee hy grootgeword het. Hy vertel hoe verbaas hy was om onlangs uit te vind dat sy pa in een van die eerste orkeste in Vredendal kitaar gespeel het. Meeste van sy familie speel een of ander instrument of sing.
“Toe ek in Blackheath gewoon het, was Vrydagaande kuieraande. Dit was altyd vir my interessant om te sien hoe musiek die mense se gemoed kon beïnvloed. Dit is wat ek wou bepaal. Wat in musiek maak dat ‘n persoon gelukkig of hartseer voel?”
Inspirasie vind Witbooi op verskeie plekke. Die kunstenaars op die eerste kleurtelevisie was meestal Afrikaanse vroue met ‘n kitaar wat opgewekte liedjies sou sing en as kind kon hy dit waardeer. Kunstenaars van die Voëlvry-beweging was ‘n ander bron van inspirasie. Vandag is enige Afrikaanse Hip-Hop kunstenaar, professioneel of amateur, vir hom aangrypend. Een ding wat hy graag sal wil verander in die samelewing is die maatstaf waaraan mense hulself en ander meet. Hy wil hê sy 3 dogters moet grootword in ‘n wêreld waar hulle nie gemeet word aan die hoeveelheid geld wat hulle verdien nie, maar eerder aan dit wat hulle bydra tot die samelewing.
Lesers kan na die volledige onderhoud luister op HemelBesem se Facebook-blad.