Berig: Emma Boonzaier
Foto: John Yeld
WESKUS: Protect the West Coast is ‘n organisasie sonder winsbejag. Hulle doel is om die wêreld te wys en te vertel wat langs hierdie ongerepte kuslyn besig is om te gebeur. Die realiteit is dat hierdie gebied onder beleg is deur ‘n rits multinasionale mynmaatskappye wat blykbaar die onomwonde steun van die regering het. Hierdie maatskappye is toegelaat om onbeheers langs hierdie kuslyn amok te maak, hoofsaaklik omdat dit meestal onbewoon is en daar min teenstand ondervind word.
Daar is talle nuwe mynbou-aansoeke in die pyplyn en ‘n voorstel vir ‘n massiewe skeepshawe by Port Nolloth om die bedryf te ondersteun. As aansoeke voortgaan sonder behoorlike betrokkenheid en toesig deur die inwoners van Suid-Afrika, sal die Weskus een groot mynhoop word en dit moet teengestaan word, ter wille van onsself en toekomstige geslagte.
Die premiére van die nuwe dokumentêre film, Ours, not Mine wat Saterdag, 20 November, vrygestel word is verfilm in verskeie areas langs die Weskus, maar veral in die area tussen Lambertsbaai en Hondeklipbaai. Die grootste uitdaging gedurende die maak van die film was om naby die myne te kom aangesien hulle so geheimsinnig is. Die film is gemaak met die doel om die regering bewus te maak wat die Weskus bied – ‘n plek met ongelooflike skoonheid, erfenis en baie meer potensiaal vir alternatiewe werksgeleenthede wat meer volhoubaar sal wees op die langtermyn.
Die Weskus word al vir amper ‘n eeu gemyn en die aktiwiteite word meestal uit die publieke oog gehou. Vandag is daar talle nuwe mynaansoeke wat plaasvind en Protect the West Coast glo dat indien dit so aanhou sal die hele kus vanaf Kaapstad tot by die Oranjerivier gemyn word met min geleenthede vir enige ander aktiwiteite.
Dit is ook belangrik vir die gemeenskappe rondom die myngebiede om te besef wat die impak is van hierdie bedryf op die natuur. Daar word aan hulle werksgeleenthede en beter lewensomstandighede belowe, maar in werklikheid gaan meeste winste uit die land in plaas dat dit teruggeploeg word in die gemeenskap.
Ours, not Mine sal aanlyn beskikbaar wees vir die publiek. Volg Protect the West Coast se Facebookblad waar die lokprent vir die film ook gesien kan word.