Tradisionele medisinale kennis word gedeel

Berig: Emma Boonzaier

Foto: Verskaf

MATZIKAMA: Lede van die Food Sovereignty Campaign (FSC) en Cape Bush Doctors het hul kennis en ervaring van kruie met lede van gemeenskap by Herb and Traditional Medicine Workshop in verskeie dorpe in Matzikama gedeel. Die werkswinkel is deur Surplus People Project (SPP) aangebied. SPP is ‘n nie-regeringsorganisasie wat in solidariteit met sosiale bewegings en ander vennote werk vir grond-, voedsel- en klimaatsge-regtigheid.
Die aanbieders van hierdie werkswinkel was van hul vennote in Paarl waar SPP ‘n agro-ekologiese skool of leerterrein het. Die fokus van hierdie agro-ekologiese skool in die Paarl is op die groei, gebruik en rol van kruie in gemeenskappe. John Ontong en Christopher Warries van die Abbysinian Herbal Estate, wat ook geregistreerde Kaapse Bossiedokters is, het die aanbiedings gedoen. Hulle het gesamentlik meer as 50 jaar se ervaring en kennis oor kruie en die gebruik van kruie. Beide van hulle is lede van die soiale beweging, die FSC, wat lid is van die internasionale kleinboerbeweging, La Via Campesina (LVC).
Die Vredendal werkswinkel het deelnemers van Vredendal en omliggende gebiede (Lamberstbaai, Citrusdal, Clanwilliam, Elandsbaai) van die Weskus ingesluit. In Vredendal het 25 mense dit bygewoon.
Die hoofdoel van die werkswinkel was om deelnemers te leer oor kruie en die gebruik van kruie, asook om met mekaar kennis oor kruie en kruiegebruik te deel. Kruie vorm ‘n belangrike deel van die landbou- en voedselstelsel. Harry May van SPP se inset by die werkswinkel het gefokus op die rol van kruie in agro-ekologie, landbou- en voedselstelsels. Lede wat die werkswinkel bygewoon het, het beklemtoon dat hulle “grootgeword” het met kruie. Baie van hulle het die tradisionele kennis rakende kruie “verloor” en die werkswinkel het hulle die geleentheid gebied om te leer en om die kennis van kruie weereens in hulle huisgesinne en gemeenskappe toe te pas. Hulle het groot waardering gehad vir die inset van die kruiedokters en oor die tipe kruies wat mens kan gebruik om jou immunstelstel te versterk tydens die huidige Covid-19 pandemie.
‘n Opvolgwerkswinkel in 2022 word beplan wat sal fokus op hoe om waarde toe te voeg tot kruie, byvoorbeeld die maak van salwe, olies, kruietee, ensomeer. Verder sal daar ook ‘n demonstrasie wees oor hoe om olie(s) uit kruie te onttrek en watter toerusting benodig word.
Verdere inligting kan verkry word van SPP se kantoor in Vredendal of skakel 021 205 9325.