Clanwilliam Essex loop as oorwinnaars weg

Berig: Julian Wildschut
Foto: Verskaf

CLANWILLIAM: Vineyards Krieketklub het op Saterdag 27 November kragte gemeet teen Clanwilliam Essex, waarna laasgenoemde in ‘n naelbytstryd met 17 lopies gewen het.
Vineyards het die loot gewen en besluit om eerste te boul. Dit was ‘n goeie besluit deur Vineyards en hul boulers het vinnig toegeslaan. Dit was weereens die linkshandige bouler, Bronnie Willemse wat die openingskolwers onderdruk geplaas het, en vroeg ‘n paaltjie geneem het. Met goeie boulwerk deur Willemse, Anthony van Zyl en Wilbur van Wyk was die tuisspan vroeg in die moeilikheid met hul telling op 53/5.
Dit was egter T Kotze (33) en D Ockhuis (41) nie uit nie, wat tot die redding van die tuisspan gekom het met ‘n uitstekende beurt. Vineyards slaag daarin om Essex te beperk tot 161 lopies. Vir Vineyards het die boulers Willemse (9-30-1), Van Wyk (9-38-3), Van Zyl (9-13-1), Vernon de Villiers (9-34-2) en Bronnie Philander (9-30-1) weereens uitgeblink.
Met ‘n teiken van 162 lopies het dit gelyk asof die span van Vineyards maklik die wedstryd sal beklink, maar dit was die veggees van Essex se boulers wat vroeg die druk teruggeswaai het na Vineyards. Uitstekende boulwerk deur die openingsboulers van Essex is beloon met twee vinnige paaltjies. Met die telling op 36 het Dudley Claasen (28) en Faf Cloete (15) hard probeer om ‘n vennootskap aan die gang te kry voor Cloete uitgehardloop is. Die boulers van Essex het volgehoue druk toegepas en vinnig deur die kolforde gegaan. Die kaptein van Vineyards, Vernon de Villiers (27) het weereens probeer om sy span te red, maar selfs sy poging was tevergeefs. Van Wyk (18) en Henrico Jonker (14) het tot in laaste boulbeurt probeer om hul span oor die wenstreep te neem.
Vir Clanwilliam Essex het hul boulers C Crosney (9-31-2), H Cloete (9-361), D April (9-33-0), D Fredericks (9-20-2) en A Williams (8.3-27-3) hul uitstekend van hul taak gekwyt en seker gemaak hul besorg nog vier punte vir hul span.
Vineyards Krieketklub wil vir Clanwilliam Essex bedank vir ‘n goeie wedstryd en wens hul sterkte toe vir die res van die seisoen. Komende Saterdag, 4 Desember speel Vineyards Krieketklub hul laaste wedstryd vir die jaar tuis teen Darling. “Ons nooi al ons ondersteuners uit om die dag te kom geniet langs die krieketveld,” aldus Julian Wildschut (voorsitter) van Vineyards Krieketklub.

FOTO: ‘n Teleurgestelde Wilbur (Wimpy) van Wyk stap van die veld na sy verbete poging om Vineyards oor die wenstreep te neem.