Clanwilliam Toerisme se naam ry ver

Berig: Mariaan Smuts

Foto: Verskaf

 

CLANWILLIAM: Alhoewel Francois Pieters, junior (24), eintlik ‘n boorling van Clanwilliam is, is hy in 1997 in Panorama Hospitaal gebore. In 1998 het sy ouers na die Kaap verhuis waar pa Francois sy vervoerbesigheid begin het. Hy en sy 2 sussies het in die Kaap skoolgegaan, maar hy kom nog gereeld Clanwilliam toe om by sy familie en veral sy ouma Lenie te kuier en dan besoek hy ook gereeld sy kliënte.
Pieters het sy hoërskoolloopbaan in 2015 aan Paarl Boys High voltooi. Na matriek het hy BCom logistiek op Stellenbosch studeer. Daarna het hy verder studeer en sy honneurs in Vervoerekonomie gedoen. Hy het ‘n groot liefde vir trokke en het as student naweke en vakansies vir sy pa trokke gery vir sakgeld. Hy was op die Weskus, Noord-Kaap en Namibië roetes. Hy het die roetes leer ken en geleenthede begin raaksien. Vandag fokus sy besigheid op die roetes, maar hy ry ook gereeld Johannesburg en Botswana toe. Hy ry nog sommige kere self ‘n vrag wanneer die nood druk.
In sy finale jaar op universiteit in 2017, het sy pa hom gehelp om sy eerste trok te koop. Dit was nie ‘n nuwe trok nie, maar ‘n begin. Hy het self die trok gery en gou geleer dis nie so maklik soos dit lyk nie, maar hy sê as jy hou van wat jy doen, is dit nie werk nie. Hy begin sy eie besigheid onder die naam FWJ Logistix. Hy het sy voorletters, wat dieselfde as sy oupagrootjie, oupa Dolly, sin is in sy besigheidsnaam gebruik. Oupa Dolly het 4 generasies voor hom met ‘n vervoerbesigheid op Clanwilliam begin en dit word vandag deur sy oom Joseph gedryf. Pieters het reeds 13 trokke bestaande uit ‘n kombinasie van drie asse, platbakke en tautliners. Sy 13 drywers het elkeen sy eie trok waarvoor hy verantwoordelik is. Byron van Wyk, ‘n regte Namakwalander van Steinkopf, is trok nommer 13 se bestuurder en is van die eerste drywers wat hy in diens geneem het. Van Wyk is ook een van sy staatmakers, die gewilligste en tot sover vry van enige insidente. Dis die rede hoekom hy trok nommer 13 se wa aan hom toegeken het. Van Wyk is boonop trots daarop om die dorp se advertensie te wees. Hy sê hy kies sy drywers met die hand uit en op roetes waarvandaan hulle kom, sodat hul gereeld skoon klere en kos in die verbygaan by hulle huise kan kry.
Pieters maak gebruik van sy pa se kleinhoewe in die Kaap, waar sy pa se besigheid ook is, om sy trokke te stoor. Hy hanteer sy skedules self en praat direk met sy kliënte. Hy het sowat ‘n maand gelede vir Seppie Uys in diens geneem wat hom met die besprekings van vragte help.
Hy sê hulle sit elke dag met die realiteit van die pandemie en hoe dit hulle lewens en dié rondom hulle beïnvloed. Dis maklik om hande in die lug te gooi en die regering te blameer, maar hy voel die privaatsektor kan ook betrokke raak om te gee waar hulle kan, ook tot voordeel van ander. “Ek “boer” feitlik elke dag in die omgewing waar ek werk en het gevoel deur wat ek doen wil ek ander in die proses help. Ek het besluit om spasie vir Clanwilliam toerisme beskikbaar te stel, want as dit met die toerisme goed gaan, gaan dit met die dorp ook goed. As dit in die dorp goed gaan, gaan dit met my mense goed”, sê Pieters. Hy het Sanet Stander, voorsitter van Clanwilliam toerisme, in Augustus genader en spasie op die wa se seile, wat toe al in die vervaardigingsproses was, beskikbaar gestel vir ‘n advertensie. Hy sê: “Van daar af het hulle kantoor al die werk gedoen en ek dink hulle het hul goed van hul taak gekwyt.”
Vrydag, 26 November, het hulle die trok in Parkstraat parkeer waar almal daarna kon gaan kyk. Die trok is in die Kaap gelaai vir Windhoek en toe kon Van Wyk sommer van Clanwilliam verder ry op sy roete.