Vredendal groet geliefde egpaar

Berig en foto: Emma Boonzaier

VREDENDAL: Na 24 jaar groet doktor Nico en Berna Viljoen Vredendal met ‘n swaar hart vol pragtige herinneringe. Die egpaar is egter baie opgewonde oor die nuwe hoofstuk in hulle lewe wat hulle in Wellington gaan aanpak.
Nico is in Germiston, Gauteng gebore en het daar grootgeword. Nadat hy daar gematrikuleer het, het hy dadelik begin teologie studeer aan die Universiteit van Johannesburg en sy studies aan Universiteit Stellenbosch voltooi. Dis waar hy sy ‘geliefde vrou’, Berna ontmoet het.
Berna het op George grootgeword en het onderwys op Stellenbosch studeer. Die paartjie is in 1985 getroud, net voor Nico se finale jaar. Daarna het Berna ‘n pos op Somerset-Wes gekry as onderwyser terwyl Nico sy studies voltooi het. Berna het 3 jaar op Somerset-Wes skoolgehou. Nico is opgeroep vir diensplig in die weermag. In hierdie tyd is hul oudste seun Bertus gebore.
Nico se eerste gemeente was Alexanderbaai en die gesin het daar vir 7 jaar gewoon voordat Nico beroep is na Vredendal-Wes gemeente. “Voor ons Alexanderbaai toe getrek het, was Malmesbury die verste wat ek al voorheen noordwes was,” vertel Nico laggend.
Met die Viljoens se aankoms in Vredendal was hul oudste seun 10, tweede seun, Ben 7 en hul dogter, Marelize 4 jaar oud.
In die 24 jaar wat hulle op Vredendal gewoon het, het hulle goeie hartsvriende gemaak, diep spore getrap in die gemeenskap en ‘n sterk liefde vir die omgewing ontwikkel. “Die gestroopheid en een-voud van die omgewing is waarvoor ek lief geraak het. Ek was bevoorreg om baie mense regoor die streek te ontmoet en dit was ‘n wonderlike positiewe ervaring,” vertel Berna.
Nico het in 2010 deeltyds verder begin studeer in spiritualiteit en sal na sy aftrede weer meer op sy studies fokus. Berna gaan verder in die onderwysrigting op Malmesbury werk waar sy gaan deel vorm van ‘n inklusiewe ondersteuningspan. Dit sal beteken dat sy van skool na skool beweeg en ondersteuning bied aan onderwysers.
Hulle sien uit daarna om nader aan hulle kinders te wees. “En dan is ons ook verskriklik opgewonde oor ons vuurhoutjiedosie!” (Dit sal die eerste keer wees wat hulle in hulle eie huis sal woon na jare wat hulle in groter pastorieë gebly het.)
“Dr. Nico en Berna Viljoen het met hul 3 kinders op 31 Januarie 1998 as inkommers op Vredendal gearriveer. Dit het nie lank geneem voor hulle deel van die gemeenskap was soos druiwe en suurstof nie.
Dr. Nico het as leraar by Vredendal-Wes, saam met Ds Pottie Viviers gewerk. Hy was ook `n geruime tyd die Tehuis van Bejaardes se leraar, waar hy baie harte gesteel het. Deur sy diep behoefte om meer van die Bybel te leer, het hy `n Wandel in die Woord groep lidmate bymekaar gebring, wat saam met hom die Bybel kon bestudeer. Hy het selfs verder in spiritualiteit studeer en sy doktorgraad verwerf.
As `n musikale siel het hy menige Sondae met wapperende togapunte, en later baadjiepunte, tussen die kerkbanke deur gehaas om self die orrel te gaan speel, as daar niemand anders was nie.
Berna is `n gebore onderwyser en sy sal enige iets vir haar “kinders” doen. Vele jong lewens hier in die vallei is deur die bekwame hande van dié liefdevolle juffrou aangeraak. Op hul beskeie manier het hierdie pastoriepaar diep spore hier getrap.
Dominee se uitbundige lag en sagte woorde laat `n leemte by elkeen van ons. Berna se lekker gesels as sy jou raakloop êrens en haar omgee vir groot en klein sal haar gou tuis maak in hul nuwe tuiste.
Sien julle weer, hou solank die tee reg…” Aldus Dolly van Niekerk van Vredendal NG Gemeente.