Berig: Emma Boonzaier
Foto’s: Verskaf
STRANDFONTEIN: Dit wil voorkom asof Matzikama nie net baie inwoners het met ‘n passie vir spoedfietse nie, maar beskik ook oor die vermoë om geleenthede te bied vir spoedliefhebbers van regoor die land. Met die streek se ongerepte natuurskoon en oop ruimtes is dit geen verrassing dat meer byeenkomste vir motorfietsryers ontstaan nie. Byeenkomste van die aard kan die streek se toerismebedryf ‘n goeie hupstoot gee, wat kan lei tot die versterking van die plaaslike ekonomie.
Strandfontein het Saterdag, 18 Desember ‘n fundero aangebied. ‘n Funduro is ‘n langafstand roete wat deelnemers met ‘n tweewiel-of vierwielmotorfiets op hulle eie tyd voltooi. Daar is geen wenners nie, slegs hope pret. Dit was die eerste fundero wat in Strandfontein aangebied is. “Ons sal dit graag ‘n jaarlikse instelling wil maak,” vertel Oubaas Kersop. Kersop is een van die koördineerders, saam met Robert van der Heever. Beide Kersop en Van der Heever het drie maande voor die byeenkoms begin om die roetes te beplan en dit self gery.
Daar is drie sirkelroetes om van te kies, maar deelnemers kan al drie voltooi. Die eerste sirkelroete is 38 kilometer oor plase in die area. Die tweede roete is 12 kilometer van Strandfontein na Papendorp. Die derde roete is tussen 16 en 17 kilometer en strek van Strandfontein na Doringbaai.
Daar was 127 deelnemers – sommige deelnemers het van die Kaap gereis om deel te neem. Deelnemers het met hul aankoms geskenkpakkies ontvang. Daar was ook gelukkige trekkings vir deelnemers.
Matzikama Paramedic Services was die hele dag teenwoordig vir ingeval enige ongelukke sou plaasvind, maar gelukkig was daar geen sulke gevalle nie. CapeNature en seevissery was ook by die byeenkoms om seker te maak dat die omgewing nie skade ly tydens die byeenkoms nie. Hulle was baie tevrede met hoe die dag verloop het. Streng spoordissipline is gevolg. Alle roetes wat gery is, was op bestaande paaie en geen nuwe paaie is gemaak nie.
“Ons wil net graag al ons borge bedank sowel as al die plaaseienaars wat ingestem het dat ons oor die plase kon ry,” aldus Kersop.