Eerste raadsvergadering vir 2022

VREDENDAL: Die eerste munisipale raadsvergadering van 2022 het Dinsdag, 25 Januarie om 14:00 plaasgevind. Nadat die speaker, Andreas Sinyamba almal verwelkom het, is daar met gebed en skriflesing geopen en gevra dat die munisipaliteit God moet prioritiseer bo alles.
Die vergadering het voortgegaan deur die agenda punt vir punt te bespreek. Dit sluit in meestal uitdagings wat die munisipaliteit in die gesig staar as gevolg van gebrek aan fondse soos slaggate, instandhouding van motors en toerusting en sekuriteit om diefstal en vandalisme aan toerusting te bekamp.
Raadslede sal sakeopleiding ontvang vanaf 31 Januarie tot 4 Februarie by Spruitdrift Wynkelder. Cederberg Munisipaliteit sal ook opleiding hier ontvang.
Burgemeester, Johan van der Hoven het gesê dat hy baie dankbaar is , nie net vir die Hemelse Vader, maar vir al die lede, amptenare en werkers. “Ons is bewus dat amptenare baie uitdagings by strande ervaar het, maar hulle het dit baie goed hanteer,” het Van der Hoven gesê.
Hy het ook van die geleentheid gebruik gemaak om partye te bedank wat gehelp het om water te voorsien gedurende Desember toe inwoners van Vanrhynsdorp nie water gehad het nie. “Ek sal graag almal wil bedank by ‘n geleentheid waar almal teenwoordig is.” Boetie Stephan wat by die vergadering teenwoordig was, het ‘n sertifikaat ontvang om hom te bedank vir sy hulp tydens die waterkrisis. Ander persone wat genoem is, is Willem Rossouw en Koos Lombard.
Die volgende raadsvergadering word voorlopig op 28 Februarie gehou.