Matzikama verloor groot gees

 

Berig: Emma Boonzaier

Foto: Verskaf

VREDENDAL: Fredrick Wilhelm Fourie, alombekend as Frik is in 1948 op Windsorton in die Noord-Kaap gebore. Hy het grootgeword op Ganspan en matrikuleer op Jan Kempdorp. Sy pa het op die stasie gewerk en sy ma was ‘n tuisteskepper. Na skool begin hy werk by Walls Roomys, wat vandag bekend staan as Dairymaid. Na jare by die maatskappy het hy besluit om sy eie winkel op Jan Kempdorp te koop. Die winkel se naam was Boerekafee. Op ‘n blommekyk uitstappie na Namakwaland in die vroeë 1980’s ontdek hy Vredendal en raak onmiddellik verlief op die dorp.
Hy verhuis saam met sy gesin na Vredendal waar hy ongeveer ‘n jaar woonagtig was, voor hy ‘n aanbod van mede-eienaarskap in Springbok ontvang.
Kort daarna kry hy die geleentheid om ‘n aandeel te koop in Vredendal Produktemark en verhuis terug na sy geliefde dorp.
Sy seun, Frikkie sluit in 2018 aan by die besigheid. “Ek het in die Kaap gewoon. Die Here het vir my gesê ek moet terugkom Vredendal toe en ‘n pad saam met my pa begin stap. Vandag is ek so dankbaar daarvoor. My pa kon vrede in sy hart hê oor die toekoms van sy besigheid,” vertel Fourie se seun.
Fourie was bekend vir die wyse waarop hy sy besigheid bestuur het. Hy was ferm, maar nooit onredelik. Daar is ‘n reg en ‘n verkeerd en geen grysareas nie. Vandag is daar 139 werknemers by Vredendal Produktemark, dit sluit die Springbok-tak in.
Hy was beslis nie net ‘n goeie besigheidsman nie, maar was betrokke by verskeie ander organisasies waaroor daar boeke geskryf kan word. Hy was streekshoof van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) Wes-Kaap, President van Vredendal Lionsklub, streek- en gebiedsvoorsitter van die Lionsklub in die Wes-Kaap, ondervoorsitter van die Streeksontwikkelingsraad, voorsitter van Vredendal Sakekamer, ondervoorsitter van Vredendal Skoukomitee, voorsitter van die Vredendal Burgerkersfonds en lid van Wes-Kaapse Tenderraad.
In 1989 word hy deur die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) aangewys as Handelaar van die Jaar, in 1990 word hy aangewys as Vredendaller van die Jaar en in 2002 word hy aangewys deur Shoprite/Checkers as Verskaffer van die Jaar in die Wes-Kaap.
Hy dien as raadslid van Vredendal Stadsraad van 1998 tot 2000 en was onderburgemeester.
Van 2010 tot 2015 was hy voorsitter van die Matzikama Munisipaliteit Ouditkomitee.
Fourie het ‘n groot liefde gehad vir diere, kinders en bejaardes.
Van 2012 tot 2017 dien hy as stigterslid en voorsitter van Because We Care.
In 2014 word hy aangewys as Senior Vredendaller van die Jaar.
Fourie was ‘n groot helpende hand vir jong besigheidspersone in die gemeenskap. Na sy dood het verskeie persone navore gekom om sy familie te vertel hoe hy hulle destyds gehelp het aan die begin van hulle loopbaan. “Dit is mense waarvan ons nie geweet het nie. Hy wou nooit erkenning gehad het vir enige iets wat hy doen nie,” vertel sy seun.
Hanna-Mi vertel hoe lief hy was vir kosmaak en om mense te onthaal. Hy was bekend vir sy beesstertpot. Hy was ook baie lief vir trifle wat hy met presisie lagie vir lagie gebou het, enige tyd van die jaar, nie net op Kersdag.
Nadat hy op 14 Junie 2021 gediagnoseer is met kanker, het hy positief gebly. Sy omgee vir ander mense was steeds daar. “Hy was passievol oor die lewe – hard gewerk, lief vir visvang, jag en toer. Na sy diagnose het hy nog gekyk na toere wat hy graag wil doen sodra hy beter voel,”sê Frikkie.
Frik Fourie is op 17 Februarie 2022 oorlede op die ouderdom van 73 jaar. Sy familie onthou hom as ‘n hardwerkende en nederige man wat altyd vir God erkenning gegee het. Alles wat hy aangepak het, was ‘n sukses.
‘n Private gedenkdiens sal gehou word, belangstellendes kan die familie kontak vir verdere besonderhede.
Frik Fourie word oorleef deur Hanna-Mi, Frikkie, Kitty en sy suster, Ansie Sussman.