Kop-aan-kop-botsing op N7 eis lewe

Berig: Mariaan Smuts
Foto: Verskaf

CLANWILLIAM: Die nooddienste het Vrydag, 4 Maart, om 17:53 ‘n oproep van Moorreesburg ontvang oor ‘n kop-aan-kop-botsing 7km noord van Clanwilliam op die N7, naby die plaas Tierhang.
Met die nooddienste reddingsbakkie se aankoms op die toneel, was daar reeds ‘n ambulans van Vredendal wat op pad was Paarl toe met ‘n pasiënt. Die SAPD was om 18:00 op die toneel en Clanwilliam Brandweer om 18:05. Later het nog twee ambulanse van Lambertsbaai en Citrusdal arriveer. Blykbaar was daar ook nog twee ambulanse van Vredendal. Met die reddingsbakkie se aankoms het drie kinders langs die pad gestaan wat passasiers in een van die motors was.
Drie voertuie was in die ongeluk betrokke, maar die Ford Figo het net met ‘n stamp daarvan afgekom en die bestuurder was in skok. Die Ford Figo was op pad in die rigting van Clanwilliam. Agter hom het ‘n Toyota Etios gery. Die bestuurder van die Figo het ‘n sleep-waentjie met ‘n kompressor in die veld aan die linkerkant van die pad opgemerk en stadiger gery. Die kompressor was blykbaar op ‘n sleepwaentjie wat van ‘n TATA vragmotortjie losgekom het.
‘n Entjie verder was die TATA geparkeer. Die bestuurder van die TATA, wat op pad was Kaap toe, het gesien dat sy sleepwaentjie losgekom en in die veld tot stilstand gekom het en gestop. Die vragmotor het met twee wiele aan die kant van die pad en twee op die ryvlak gestaan. Hy het een van sy werkers gevra om met ‘n vlaggie langs die pad te staan en die verkeer te waarsku om stadiger te ry en te stop.
Twee voertuie het agter die TATA gestop. Die Toyota Etios wat van die Vredendal rigting op pad was, het versuim om stadiger te ry of te stop. Die Etios het die Ford Figo, wat stilgestaan het, op die regteragter modderskerm getref en in die aankomende verkeer se ryvlak in beweeg. Die Etios het die Opel Astra wat vanaf rigting Clanwilliam op pad was, kop-aan-kop getref.
Die bestuurder van die Astra het in die voertuig vasgesit. Die impak van die botsing het sy bestuurstoel vorentoe geskuif en hom teen die stuurwiel vasgedruk.
Hy moes met die kake van die lewe losgesny word. Sy 36-jarige vrou, Jo-Ann de Wee, wat voor langs hom gesit het, is op die toneel dood verklaar. Haar vriendin het agter die bestuurder gesit en is ook ernstig beseer. Die passasiersdeur kon nie oopmaak nie en reddingswerkers moes ook daardie deur afsny om haar uit te haal. Die egpaar en drie kinders is van Lambertsbaai.
Die bestuurder van die Astra is met borsbeserings en ‘n gebreekte been na die Clanwilliam Hospitaal vervoer vanwaar hy oorgeplaas is na Paarl Hospitaal. Die vriendin is met ‘n ander ambulans eers na Clanwilliam Hospitaal en later na Paarl Hospitaal geneem. Die bestuurder van die Etios is ook na die Clanwilliam Hospitaal geneem met borsbeserings. Hy is intussen ontslaan en het reeds ‘n verklaring afgelê.
Vredendal Forensies het De Wee se liggaam na Vredendal geneem vir ‘n nadoodse ondersoek.
Die saak is oorhandig aan speurdersersant Abé Koopman vir verdere ondersoek. ‘n Klagte van Manslag is geopen.

Die Opel Astra en Toyota Etios op die toneel.