Berig: Annemarie Munnik
Foto: Verskaf
VREDENDAL: Reino le Fleur, het die afgelope tyd opgelet dat verskeie atlete van die omgewing, veral diegene wat aan die baanitems deelneem se talente nie ten volle ontwikkel word nie. Hy voel dat atlete nie die nodige opleiding ontvang wat hul verder as Noordwes Boland kan neem nie.
Nadat hy die Boland byeenkoms bygewoon het om die atlete te ondersteun, het hy besef iets is fout en dat hy atlete moet help om hul tegnieke te verbeter. Hy wil hê atlete moet verder gaan as Boland en ook aan die Wes-Kaap byeenkomste en selfs aan die SA’s deelneem.
Le Fleur, het ‘n afrigter Husaan Neethling wat 15 jaar provinsiale ondervinding het en selfs SA atlete afgerig het genader. Hy het ook twee onderwysers uit Vredendal-Noord betrek.
Le Fleur het sy idee voorgelê om ‘n Noordweste atletiekklub vir atlete te stig, nie net vir minderbevoorregte leerders nie, maar enige atleet wat sy of haar talente tot die beste van hul vermoë wil ontwikkel. Hy voel dat so ‘n klub vir leerders al 10 jaar gelede gestig moes wees.
Die 10 atlete wat genader is, het ‘n oefensessie saam met Neethling gehad. Die atlete het na die tyd genoem dat hulle nog nooit so ‘n sessie bygewoon het nie en sien uit na wat voorlê.
Die doel van die atletiekklub is dat atlete regdeur die jaar afrigting moet ontvang. Die atlete moet blootstelling kry aan ‘n groter baan soos Dal Josaphat. Le Fleur voel dat die plaaslike skole se bane te klein is en nadelig is vir die atlete. Hy voel ook atlete moet meer blootstelling kry om met spykerskoene en wegspringblokke te oefen. Neethling het onlangs ‘n oefensessie aangebied waar hy atlete touwys gemaak het hoe om wegspringblokke te gebruik. Le Fleur sê hoe meer blootstelling die atlete ontvang, hoe gemakliker raak hulle daarmee.
Le Fleur moet borgskappe kry om atlete na Bolandpark of Dal Josaphat te neem om hulle die basiese tegnieke aan te leer, daarna kan atlete plaaslik oefen. Met die verbetering wat atlete dan gaan wys, sal meer atlete en selfs ouers uit die gemeenskap betrokke raak.
Die klub sal meer kan verrig, dié klub sal onder Boland Atletiek affilieer. Die klub sal dan parkruns, velditems, landlope en selfs marathons kan akkommodeer. Le Fleur noem dat daar verskillende afrigters vir die verskeie items moet wees, maar dat almal onder een Noordweste klub sal val.
Die klub beplan ook om ‘n standaard 400m baan op Vredendal-Suid se sportgrond uit te merk. So raak atlete gewoond aan die “regte” afstand. Le Fleur voel ook dat atlete een keer per maand op ‘n tartanbaan moet oefen, die atlete word dan na Dal Josaphat vervoer. Teen die atletiekseisoen is die atlete gewoond aan die baan. As die atlete aan byeenkomste in ander dele van die provinsie ook deelneem, leer hulle hul opposisie ken.
Tans staar die klub struikelblokke in die gesig, soos finansies. Le Fleur noem dat die klub tydens byeenkomste insentiewe sal aanbied, en ook met die byeenkomste geld insamel om fondse te genereer, nie net om vervoerkostes te dek nie, maar ook om toerusting aan te koop. Le Fleur noem dat hul ook met die fondsinsamelings ouers kan subsidieër. Hy voel dat die klub nie net groot besighede wil betrek nie, maar kleiner besighede. So raak die gemeenskap ook betrokke by die klub. Hy wil positiwiteit by besighede kweek om meer betrokke te raak.
Atlete sluit vrywillig aan by die klub. Le Fleur beplan op die langtermyn om in elke dorp in Matzikama oefensessies aan te bied wat onder die klub val. Dan kan verskeie persone uit die gemeenskap wat atletiekagtergrond het, in samewerking met die hoofafrigter werk en so ook ‘n inkomste genereer. Die afrigters gaan ook dan opleiding ontvang om vlak 1 afrigting aan te bied. Daarna kom die atlete eenkeer ‘n maand bymekaar vir ‘n vriendskaplike byeenkoms. Hy voel dat as die atlete die regte afrigting kry, kan verskeie rekords tydens sone en Noordwes-Boland byeenkomste verbeter word.
Le Fleur se groot droom vir die atletiekklub is om binne die volgende paar jaar ‘n tartanbaan in die omgewing te bou. Hy sê dit kan stap-vir-stap aangepak word. Hy noem dat dit ‘n gemeenskapsprojek kan raak.
Die klub het lede nodig om aan ASA se riglyne te voldoen om ‘n inklusiewe atletiekgroep te stig.
As daar enige belangstelling is, vanaf afrigters, atlete, ouers of selfs besighede kan Reino le Fleur gekontak word by 073 853 1815.