Berig: Annemarie Munnik
Foto: Verskaf
VREDENDAL: Chris-Mari Nel, ‘n leerder van Hoërskool Vredendal het 15 tot 19 Maart tydens die SA Atletiekkampioenskappe drie goue medaljes verower. Sy behaal die volgende afstande: hamergooi 49.15m, diskus 44.86m. In gewigstoot gooi sy 7cm kort van die SA rekord met ‘n afstand van 15.96m.
Dié is voorwaar ‘n uitsonderlike prestasie vir die streek.
Nel sê die hele ervaring was baie lekker, maar die spanning het hoog geloop, want sy wou net haar beste lewer.
Die diskus-item was ‘n groot uitdaging, want hulle was 27 atlete wat deelgeneem het. Met haar eerste twee gooie het sy in die hok vasgegooi, “ek het toe begin stres,” aldus Nel. Sy het geweet sy het net een kans om haar beste te gee om die top 8 te haal. Gelukkkig kon sy die gooi oorwin en so die top 8 haal waar sy nog drie kanse gekry het.
Nel het in graad 5 gewigstoot begin oefen. Hier het haar liefde vir atletiek begin. Die jaar se SA’s was haar vierde kampioenskap, sy noem dat sy elke jaar bietjie beter vaar. Harde werk en toewyding het definitief vrugte afgewerp.
Vanaf 30 Maart tot 2 April gaan sy aan die ASA (Klub SA’S) in Potchefstroom deelneem. Tydens die byeenkoms neem sy in die O/16-afdeling deel.
Sy oefen dwarsdeur die jaar aan haar items om voor te berei vir die volgende seisoen.
Sy wil graag haar afrigters bedank, Adre Husselmann en Karin Thiart. “Baie, baie dankie vir al die opofferings wat julle maak en al die ure se harde werk,” sê Nel. Sy wil ook die gemeenskap van Matzikama bedank vir die oproepe, boodskappe en ondersteuning deur die jare. Die Nel-gesin waardeer dit.
“Ook is daar altyd mense wat bereid is om hulle beursies oop te maak en te help om my daar te kry waar ek moet deelneem, want dit kos maar baie. Vir julle almal is ons ook baie dankbaar en waardeer elkeen van julle. Baie dankie aan elkeen,” aldus Nel.
Chris-Mari Nel spog met drie SA titels.