Berig: Mariaan Smuts
Foto: Verskaf
GRAAFWATER: Graafwater Spesiale Skool het verlede week met trots op sosiale media gesien hoe hul atlete wat in die Wes-Kaap atletiekspan vir LSEN skole opgeneem is, stof in die ander atlete se oë skop.
Slegs ‘n jaar nadat die skool sy deure oopgemaak het, kan hul spog met ‘n SA kampioen, asook ‘n Reserwe SA kampioen in atletiek. Nie een van die atlete het voorheen deurgedring na die Boland of Wes-Kaap Kampioenskappe nie. Kyle van den Heever, Deanno Ghall en Carla Saal het uitstekend gevaar die atletiekseisoen en was deel van die Wes-Kaap LSEN span wat verlede week aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe in Germiston deelgeneem het.
Kyle van den Heever het die 1ste plek vir seuns O/15 in die 1 500m behaal met ‘n persoonlike beste tyd van 4:33:16. Deanno Ghall behaal ‘n tweede plek in die 800m vir seuns O/17 en ‘n 4de plek in die 1 500m. Carla Saal neem deel aan die 1 500m vir dogters O/15 en behaal ‘n vierde plek. Suene Burger het die Wes-Kaap span as spanbestuurder vergesel.
Hul afrigter, Mari de Beer sê: “As ons terugdink waar hierdie atlete moes oefen, op ‘n stofbaan vol duwweltjies, is hierdie prestasie soveel meer merkwaardig en verdienstelik”.
Van die 19 atlete wat gekwalifiseer het om aan die Boland LSEN interskole deel te neem, het 12 die voorreg gehad om deur te dring na die Bolandbyeenkoms en so kon Graafwater Spesiale Skool ook vyf Boland en drie Wes-Kaap atlete oplewer in hul eerste atletiekseisoen. “Trotser kan ons as skool nie wees nie”, sê die personeel.
Die skool bedank elke borg wat die atlete se drome vlerke gegee het sodat hulle, hul talente kon uitleef.
Kyle van den Heever, Deanno Ghall, Suene Burger (spanbestuurder) en Carla Saal.