Berig: Annemarie Munnik
Foto: Verskaf
LUTZVILLE: Lechan Toerien, ‘n leerder van Hoërskool Lutzville het verlede week in Germiston aan die SA Atletiek Kampioenskappe gaan deelneem. Hy verwerf ‘n eerste plek in die seuns O/19 driesprong met ‘n afstand van 14,44m.
Toerien neem al van graad 10 af aan driesprong deel, en hy voel baie gemaklik met dié item. Hy het tydens die SA Kampioenskappe verspring ook gedoen, maar slegs ‘n 9de posisie behaal. Toerien doen al vanaf graad 6 verspring.
Tydens sy atletiekloopbaan het hy nog nooit ‘n besering opgedoen nie, hy sê dis omdat hy so gemaklik op die sportveld is.
“Ek dink die manier hoe ek in Ebenhaeser grootgeword het, ons kinders is maar baie wild hier en kry nie sommer geleenthede om te doen waarvan ons hou nie.”
Tydens die SA Atletiekkampioenskappe het hy gevoel dat jy altyd net jou beste moet gee, maak nie saak of jy wen of verloor nie, want dis die land se beste atlete wat teen mekaar meeding.
Gauteng het hom goed gedoen omdat hy vir homself gesê het “ek was nog nooit hier nie, so ek gaan my naam hier agterlaat,” sê Toerien.
Sy ouers het hom gedurende die byeenkoms ondersteun, asook sy afrigter, Ernesto Love. Hy wil hulle graag bedank vir hul ondersteuning gedurende sy skoolloopbaan.
Sy rolmodel was nog altyd, Justin Gatlin van VSA omdat Toerien net kort afstande gehardloop het. Dit is Toerien se laaste jaar op skool, en hy het baie tydens sy atletiekloopbaan geleer. Hy het nog altyd meer van rugby gehou, atletiek was maar sy tweede keuse
Hy gaan oor twee weke Boland rugbyproewe speel.
Hy gaan volgende jaar by WP Rugby Academy sportbestuur studeer omdat hy baie graag nasionale rugby wil speel, maar hy gaan op atletiek ook fokus om ander atlete te help.
“Ek wil ons Hemelse Vader bedank, ek weet Hy het alles vir my moontlik gemaak. Die borge, almal wat ‘n bydrae gelewer het, dit beteken vir my baie. Dan wil ek ook graag Hoërskool Lutzville bedank vir die ondersteuning, sonder julle sou ek dit nie bereik het nie. Ebenhaeser, my dorpie, dankie vir die ondersteuning ek waardeer dit opreg,” aldus Toerien.
Lechan Toerien van Hoërskool Lutzville, SA O/19 driesprong kampioen.