Oudste lid van destydse Rooibosteeraad sterf

Berig: Mariaan Smuts
Foto: Verskaf

CLANWILLIAM: ‘n Welbekende en een van die oudste bestuurslede van die destydse Rooibosteeraad, Piet Saayman, is op 14 Maart in Sederhof Tehuis vir Bejaardes op die ouderdom van 88 jaar oorlede.
Pieter Van Wyk Saayman is op 20 Januarie 1934 in Riversdal gebore en het in 1952 aan die Hoërskool Langenhoven Riversdal gematrikuleer. Sy eerste liefde was rugby. Hy speel senter vir Pretoria se span. Daarna speel hy vir Heidelberg en Wolseley en van 1952 vir Clanwilliam se dorpspanne. Hy was agsteman vir Clanwilliam Rugbyklub en speel vir die dorp se eerste span tot 1968. Op 23-jarige ouderdom word hy in 1957 gekies as kaptein van die dorp se 1ste rugbyspan en hy hou kapteinskap tot 1964. Op 36-jarige ouderdom word hy voorsitter van die Clanwilliam Rugbyklub en beklee die pos vir 17 agtereenvolgende jare. Hy was bestuurder van die klub van 1957 tot 1987 (‘n tydperk van 30 jaar). Hy word vereer as die 2de erepresident in 1987. Hy verteenvoordig die NW Rugbyklub van 1956 tot 1966 en later die gekombineerde subunie span.
Hy dien op die bestuur van Hoërskool Clanwilliam, was ondervoorsitter van 1982 tot 1991. Hy dien op die bestuur van Sederhof tot 1989. Hy was diaken en ouderling by die NG Kerk en so gaan die lys aan. Piet Saayman trap diep spore in die dorp en word geprys vir onbaatsugtige diens en leiding.
Op 22-jarige ouderdom word hy op 28 Julie 1956 aangestel as sekretaris/ bestuurder by die destydse Rooibosteebeheerraad, Hy word ‘n inherente onafskeidbare deel van die Rooibosteebedryf; hul sou saam groei, saam leef, in ‘n gees van onderlinge en wedersydse lojale samehorigheid. Die raad begin leef, dit is aktief en dit groei. Saayman het die pos tot 1992 beklee. Op daardie stadium was hy die enigste amptenaar by die Rooibosteeraad. Op 18 Februarie 1977 word hy bevorder tot hoofbestuurder van die Rooibosteeraad. Die Rooibosteeraad het bestaan tot 1991. Saayman ontvang ‘n oorkonde by ‘n afskeidgeselligheid op 22 Julie 1992 met erkenning van 36 jaar getroue en onbaatsugtige diens aan die Rooibosteebedryf. Rooibos Bpk beskryf hom in die volgende woorde: “Sy insig, werkywer, toewyding en deursettingsvermoë was deurslaggewend en het gedien as motivering vir raadslede en kollegas in die daarstelling van ‘n doeltreffende infrastruktuur van mannekrag, bedryfs- en bemarkingsfasiliteite wat gelei het tot die ordelike bestuur en fisiese hantering van verskeie bemarkingsdeurbrake. Sy bydrae tot die oprigting van die nuwe kantoorkompleks en die opening daarvan deur hom op 31 Oktober 1991 sal altyd getuig van en dien as herinnering aan sy onvermoeide ywer en geloof in die unieke bedryf. Deur alles het sy gesin hom getrou ondersteun. Dit het hom in staat gestel om ook ‘n aktiewe bydrae in die gemeenskapslewe van Clanwilliam te lewer. Die Rooibosteebedryf eer hom daarvoor”. Na sy aftrede het die raad geprivatiseer en verander die naam na Rooibos Bpk.
Saayman ontmoet sy vrou, Stella op Clanwilliam en hul tree op 15 Desember 1962 in die huwelik. Die egpaar het 3 kinders, Dawid, Martin en Hannelie. Met sy troosdiens op 20 Maart, het sy kleindogter, Cara, wat binnekort oorsee vertrek. ‘n huldeblyk namens die familie gelewer. Yan Smit moes die bedankings doen en het besluit om ook sy eie hulde-blyk namens verskeie organisasies vir wie hy ongelooflik baie beteken het, te lewer. Smit sê alles wat Saayman aangepak het, was ‘n sukses. Hy noem dat hy Saayman se unieke handtekening, met baie krulle, altyd sal onthou. Smit sê hy het so ver gegaan om die krulle te tel om seker te maak of Saayman elke keer dieselfde hoeveelheid gebruik, en hy het. Saayman was lief vir lag en het dit met passie gedoen. Smit sê die egpaar se 59 jaar van getroude lewe het 3 pragtige getuigskrifte opgelewer en dat Saayman se aardse lewe van 88 jaar die van ‘n modelpa en persoon was. Saayman het in sy lewe sowat 17 operasies gehad. Na ‘n hartomleiding wat hy op 22 Mei 1987 ondergaan het, het Saayman sowat ‘n maand later in die kerk ‘n boodskap gebring waarin hy gesê het: “Ek het ‘n tweede kans gekry”. “Saayman het nie verniet gesterf nie, want sy lewe was ‘n voorbeeld en ‘n teregwysing vir almal,” sê Smit. Piet Saayman laat sy vrou Stella, 2 seuns en ‘n dogter, 2 skoondogters, ‘n skoonseun en 6 kleinkinders na.

Piet Saayman in sy tuintjie by Sedersig.