Berig: Annemarie Munnik
Foto: Verskaf
LUTZVILLE: Hoërskool Lutzville spog met ‘n tweede SA Kampioen. Xavier Owies het verlede week aan drie items by die SA Kampioenskappe in Potchefstroom deelgeneem.
Hy verwerf ‘n tweede plek in die seuns O/11 80m met ‘n tyd van 10.61 sekondes. Dit is sy gunsteling medalje. Hy behaal ‘n vierde plek in die seuns O/11 100m finaal met ‘n tyd van 13.21 sekondes. Sy aflosspan wen ook hulle wedren, waar hy ook ‘n goue medalje ontvang. Sy groot prestasie is ‘n eerste plek in verspring met ‘n afstand van 4.75m.
Owies is al vanaf 7-jarige ouderdom die Boland kampioen in 60m en 80m in sy ouderdomsgroep. In Augustus 2021 is hy deur die Departement van Kultuursake en Sport uitgenooi na ‘n afrigtingsessie vir Weskus-distrik. Na ‘n deeglike siftingsproses is hy gekies om deel te wees van DCAS se “High Performance Programme” in Malmesbury.
Dié jaar was Owies se eerste SA Kampioenskappe, 2021 sou eintlik sy eerste wees, maar as gevolg van Covid-19 was daar geen atletiek nie. Hy het die SA Kampioenskappe baie geniet en dit was vir hom ‘n groot voorreg om teen die bestes van die land te kan kompeteer.
Owies is deur verskeie uitdagings voor hy die kampioenskappe bygewoon het.
Owies noem dat, sy tuisdorp Doringbaai nie ‘n behoorlike atletiekveld het nie en dat daar glad nie ‘n verspringput is nie. Verspring is een van sy beste items.
Hoërskool Lutzville het ‘n goeie baan en geriewe, maar na ‘n lang skooldag beteken dit sy ouers moet twee keer heen en weer reis, wat addisionele uitgawes meebring. Soms word dié skool se baan vir ander sportkodes gebruik, dan moet hy by Hoërskool Vredendal oefen. Op die oomblik fokus Owies net op atletiek en beoefen geen ander sport nie.
“Eerstens wil ek die Hemelse Vader be-dank vir my talent, asook my verspringafrigter, Micheal Cupido en Trudie Miller van DCAS. Ek wil ook graag my skool bedank wat my altyd ondersteun. Dan vir David Fredericks van DPS wat nie gehuiwer het om te help met die invul van die vorms vir deelname aan die SA byeenkoms en Marren Williams van Doringbaai E-Centre dat sy altyd alle dokumente uitdruk en afskrifte maak. Verder wil ek Paul Chapman van Gauteng bedank vir die skenking van my wegspringblokke. Bronwill Magasie vir die akkommodasie en sy gasvryheid in Potchefstroom. Dan wil ek my ma en pa bedank vir hulle ondersteuning en my familie vir hulle bydrae, liefde en ondersteuning, asook die gemeenskap van Doringbaai en Lutzville. Laastens wil ek die borge en elkeen wat ‘n bydrae gelewer het om die toer na Potchefstroom moontlik te maak bedank, ek waardeer dit opreg,” aldus Owies.
Xavier Owies spog met sy medaljes