Dokter Herman Uys na kort siekbed oorlede

Berig: Mariaan Smuts Foto: Verskaf

CLANWILLIAM: Dokter Herman Uys is op 2 Mei 1935 in Caledon gebore waar hy ook skoolgegaan en sy pa ‘n onderwyser was.
Uys begin sy studies by Universiteit van Stellenbosch as BsC student en verander daarna na geneeskunde. Hy was een van die eerste innames by die instelling as mediese student.
In 1961 koop hy wyle dokter Theron se praktyk op Clanwilliam vir R1 500 en blykbaar het dit ook Theron se Dodge bakkie ingesluit. Uys was vir jare algemene praktisyn, mediese superintendent en distriksgeneesheer in Clanwilliam. Baie vennote en assistente het gekom en gegaan, maar Uys was ‘n vasbyter. Later het hy van sy ou vriende, dokters Folcher en Theron geakkommodeer en hul van werk voorsien.
Op die ouderdom van 75 jaar besluit hy om die tuig as hospitaaldokter en algemene praktisyn neer te lê. Hy was egter nooit ledig nie en het nog soms werk vir SASSA gedoen. Uys se ma en sy tannie was begaafde musikante en hy het die talent by hulle geërf. Hy was ‘n bedrewe vioolspeler. Hy was lief vir stap en het baie tyd in die Cederberge deurgebring. Hy het ook ‘n liefde vir die natuur gehad en was lief om foto’s te neem en self sy eie films te ontwikkel. Hy het baie tyd op sy plaas deurgebring en die natuur en stilte geniet. Sy ou vriende het baie saam met hom op die plaas gekuier.
Uys se eerste vrou, Lettie, is op ‘n redelike jong ouderdom aan kanker oorlede. Hy trou weer later met Agnes en spandeer meeste van sy aftrede saam met haar. Agnes het hom deur moeilike tye bygestaan: kanker, ‘n hartomleiding en voor sy dood ook vir ‘n paar jaar met Alzheimer se siekte. Hy is na ‘n kort siekbed op 6 April oorlede.
Uys het baie opofferings vir Clanwilliam se mense gemaak. Hy het nog getrou huisbesoeke gedoen en sy pasiënte het die vrymoedigheid gehad om hom enige tyd te bel as hul sy hulp nodig gehad het. Hy is ook al menige maal uit die kerk ontbied wanneer ‘n pasiënt hom nodig gehad het. Uys het kilometers grondpad gery na die uithoeke van Wupperthal om siekes te besoek en het baie kere geen vergoeding gevra nie. Clanwilliam was werklik bevoorreg om vir baie jare ‘n dokter soos Herman Uys te kon hê.
Een van sy kollegas het gesê daar is min mense wat geweet het dat hy ook kon kwaad raak. Hy het blykbaar een aand ‘n man wat op ‘n suster gevloek het by die hospitaal uitgegooi, blykbaar nadat hy eers sy moue opgerol het.
Uys is vanuit die NG Kerk op Clanwilliam begrawe. Hy laat sy vrou Agnes, vier seuns, Dirkie, Lourens, Herman en Bernard, 10 kleinkinders en vier agterkleinkinders na.

Dokter Herman Uys.