Vredendaller stap weg met Mrs Mzantzi kroon

Berig en foto’s:  Verskaf

VREDENDAL: Lizelle Kachelhoffer, is onlangs gekroon as Mrs Mzantzi Africa.
Mrs Mzantzi Africa is ‘n drie dae nasionale kompetisie wat jaarliks aangebied word. Enige dame in Suid-Afrika is welkom om deel te neem. Die kompetisie fokus op vroue wat regtig ‘n verskil in hul gemeenskap maak en ‘n liefde vir gemeenskapswerk en sosiale ontwikkeling het. Dit gaan oor meer as net skoonheid. Vrouens wat hul oog op die titel het, word beoordeel in verskillende kategorieë wat hulle vermoëns toets ten opsigte van onafhanklikheid, kreatiwiteit, doelgerigtheid, persoonlikheid, liefdadigheidswerk en natuurlik, bietjie skoonheid.
Deelnemers moet balans hê en goed afgerond wees.
Kachelhoffer het deelgeneem omdat sy ‘n storie het om te vertel oor haar eie uitdagings, mislukkings en suksesse. Twee jaar gelede kon sy nie eers loop nie en het vir maande in die intensiewesorgeenheid gelê. Daar was dae wat sy gedink het, miskien is dit beter as sy net sterf. Sy het soms nagte om met God geworstel en moes leer om net op God te vertrou.
As haar lewensverhaal ander persone kan motiveer, bereik sy haar doel. “Die lewe is nie altyd maklik nie, maar ek het geleer om te kies om elke dag gelukkig te wees en voluit te leef,” aldus Kachelhoffer. Sy hou daarvan om ander suksesvolle vrouens te ontmoet en te netwerk.
‘n Kompetisie soos hierdie help deelnemers groei en toets hul geduld en deursettingsvermoë. Dit is vir haar lekker om ‘n groter doelwit te hê, wat ‘n mens buite jou gemaksone plaas
Dit is vir haar lekker om by hierdie organisasie betrokke te wees, waar die eienaars goedhartige Christene is en goeie werk in die gemeenskap doen.
Die kompetisie het oor drie dae plaasgevind. Natuurlik is betrokkenes maande voor die tyd reeds besig met gemeenskapswerk en moet deelnemers die publiek ophoogte hou van hul bedrywighede. Die publiek stem vir Mrs Public Choice, Kachelhoffer het met dié titel ook weggestap. Oor die drie dae het hulle rokke van rommel gemaak, onderhoude gevoer, Gold Reef City gaan verken, fotosessies gedoen en hul moes aantrek soos ‘n karakter en liedjie kies wat hul uitbeeld. Sy het dit baie geniet.
Kachelhoffer spog met die volgende titels: Mrs Mzantzi Africa 2022 -2023, Mrs Public Choice, Mrs Personality, Mrs Style, Mrs Photogenic, Best interview, Debutante Queen en Overall Mzantzi Dezigna.
Sy is trots op haar Mrs Personality titel, want haar ouma sê altyd: “’n mens kan hoe mooi wees van buite, maar as jy lelik is van binne, is jy nie mooi.”
Wat hou die pad vorentoe vir haar in? Hierdie jaar is dit belangrik dat sy ‘n goeie ambassadeur vir die Mrs Mzantzi Africa naam is. Sy beoog om so veel as moontlik ‘n impak op ander se lewens te maak en regtig ‘n verskil in die lewe van minder bevoorregte kinders te maak. Sy wil hê ander moet deur haar gemotiveer word, om nooit op te gee nie en altyd vas te hou aan God se liefde vir mense. Sy sal nooit gesond wees nie, maar solank sy leef wil sy baie lewens aanraak.
Sy wil graag Vredendal gemeenskap bedank wat haar altyd ondersteun en altyd vir haar bid in moeilike omstandighede.

Lizelle Kachelhoffer, Mrs Mzantzi Africa.