Berig: Annemarie Munnik
Foto: Verskaf
VREDENDAL: Voertuig eienaars se uithouvermoë en tegniek is omtrent Saterdag, 28 Mei getoets tydens Vredendal Lionsklub se jaarlikse Maskam 4×4 Challenge by Bergkraal van Frikkie van Zyl.
Derick Lochner noem dat 65 voertuie aan die pretvolle gesinsdag deelgeneem het. Sewe en vyftig deelnemers het die sandroete gery en agt die vastegrondroete.
Die dag het goed verloop met geen voorvalle nie. Lochner noem dat daar dié jaar dieselfde hoeveelheid deelnemers as verlede jaar was.
Die dag is gesellig by die Lionsklub afgesluit en elke deelnemer het ‘n geskenkpakkie ontvang.
Jaco (Kat) Visser, van Lutzville het die sandroete met sy Toyota FJ Cruiser gewen en het ‘n “air pump” ontvang. Hy noem dat die Maskam 4×4 Challenge altyd ‘n lekker geleentheid is en ‘n hoogtepunt op die area se 4×4 kalender. Volgens Visser was die sandroete uitdagend die jaar en die organisasie was weereens topklas.
Gernu Engelbrecht van Koekenaap het met sy opgeboude 1985 Toyota die vastegrondroete gewen. Hy het ‘n stel 4×4 bande ontvang. Engelbrecht wil graag elkeen bedank wat betrokke was. Hy bedank veral die vastegrond span wat gesorg het vir vermaak, asook almal wat foto’s en video’s geneem het. Hy wil ook graag vir Nico’s Auto Field Services bedank, en vir Niel vir die hulp toe die bakkie onklaar geraak het. “Daarsonder sou die geel draak nie die einde gehaal het nie,” aldus Engelbrecht.
Vredendal Lionsklub beplan om Mei 2023 weer die dag aan te bied. Hul wil graag al die borge bedank wat die dag moontlik gemaak het.
Gernu Engelbrecht (vastegrond wenner), Johan Fourie (een van die borge) en Jaco Visser (sandroete wenner).