Berig: Mariaan Smuts
CLANWILLIAM: Dis met groot hartseer dat Clanwilliam gemeenskap van dokter Herman Uys moet afskeid neem nadat hy besluit het om sy praktyk te verkoop. Uys is ‘n gebore Clanwilliamer en het in sy pa se voetspore gevolg deur hom as mediese dokter te kwalifiseer.
Hy het in 1983 aan die destydse Hoërskool Clanwilliam gematrikuleer en daarna medies aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Hy doen sy internskap by Tygerberg Hospitaal waarna hy in Venda by die Tshilidzini Hospitaal gewerk het. Daarna het hy ‘n tyd by Stellenbosch Provinsiale Hospitaal gepraktiseer. Op 1 Mei 1995 begin hy saam met sy pa by Clanwilliam Hospitaal praktiseer. Hy besluit om na 27 jaar in Clanwilliam af te tree en lê die tuig neer op 30 Junie. Daar is nog geen definitiewe planne vir die toekoms nie, maar intussen geniet hy en sy vrou, Gina, uitstappies in die natuur en hul liefde vir fotografie. Uys sê grappenderwys: “Ek gaan van ‘n professionele beroep na amateur fotograaf oorskakel”.
Dokter Debra Harmuth neem Uys se praktyk oor vanaf 1 Julie en sal voortaan na sy pasiënte omsien. Harmuth is ‘n mediese dokter, verantwoordelik en aanspreeklik vir bewysgebaseerde, holistiese kwaliteit en pasiënt gesentreerde sorg.
Sy het haar loopbaan in verpleegkunde as ‘n BCur-student aan die Universiteit van Wes-Kaapland begin, waar sy later haar Baccalaureursgraad in Verpleegkunde, ‘n nagraadse diploma in Verpleegonderwys en ‘n nagraadse diploma in Verpleegbestuur aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het. Harmuth het 6 jaar se kliniese verpleegondervinding in trauma- en noodeenhede in staatshospitale in Kaapstad en op vaartuie opgedoen.
Sy het verder medies studeer en haar mediese graad aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi in 2018. Sy het haar internskap by Chris Hani Baragwanath Hospitaal in Gauteng voltooi en haar gemeenskapsdiens by Khayalitsha Hospitaal, waar sy haar nagraadse diploma in noodgeneeskunde voltooi en verwerf het. Sy het ‘n nuutgevonde liefde vir ultraklank en die voordele daarvan as ‘n kliniese hulpmiddel ontdek.
Harmuth is passievol oor holistiese, kwaliteit pasiënt gesentreerde sorg en die unieke waarde wat dokters en verpleegkundiges in hul verhoudings met pasiënte, hul kollegas en families teweeg bring. Sy glo enige pasiëntinteraksie moet gegrond wees op vriendelikheid, besorgdheid, sorg, bekwaamheid, toewyding en ‘n liefde en respek vir hulself en ander.
Harmuth woon saam met haar verloofde op ‘n plaas tussen Clanwilliam en Citrusdal. Sy geniet dit om kwaliteit tyd saam met haar familie, vriende en haar twee pragtige honde deur te bring. Sy geniet musiek en teater en is lief vir die buitelewe. Sy sien uit om in die nabye toekoms met ‘n gesin te begin.
“Ek is so dankbaar en nederig oor hierdie geleentheid om by die gemeenskap van Clanwilliam aan te sluit en hoop om kwaliteit en bekostigbare sorg aan die mense van Clanwilliam en omgewing te lewer. Ek sien uit daarna om almal en hulle gesinne by die praktyk te verwelkom en te deel in die vreugde om julle gesond en gelukkig te hou,”sê Harmuth.
Dokter Herman Uys en sy vrou, Gina tydens hul huweliksherdenking. Foto: Suné Nel.
Dokter Debra Harmuth. Foto Verskaf