Kosmaak bring mense bymekaar

Berig: Emma Boonzaier
Foto: Verskaf

MATZIKAMA: Denvan Bocks en Ettiene Matwan het in 2015 vriende geraak nadat hulle, by ‘n werksgeleentheid in Lambertsbaai, saam ‘n snoek gebraai het. Een Vrydagaand in Desember 2021 nooi Bocks vir Matwan na sy huis vir ‘n kuier en ‘n potjie. Matwan het besluit om ‘n lewendige opname op Facebook te deel terwyl hulle die pot maak en gesels.
Die twee vriende het goeie terugvoering ontvang.
Na ‘n tyd het Matwan vir Bocks na sy huis genooi vir ‘n potjie. Dié keer het die twee gesels oor waar hulle vandaan kom en grootgeword het, die speletjies wat hul gespeel het en die televisieprogramme wat hulle gekyk het as kinders. Hulle het dit weer op Facebook gedeel. Mense het hulle via Facebook boodskappe gestuur of in die dorp voorgekeer om te hoor wanneer hulle weer saamkuier. Matwan het met ‘n naam vorendag gekom en so is, Pot Maak en Klets gebore.
Dit is oop vir verskeie onderwerpe, maar fokus hoofsaaklik op die jeug en om hul opinies en talente ten toon te stel. Bocks en Matwan voel ook dis belangrik om te leer van die streek se senior burgers. “Ons ouer mense het stories om te vertel waaruit ons jeug kan leer,” aldus Bocks.
Dit word meestal op Vrydagaande gedeel en hulle kry gaste om oor verskeie onderwerpe wat die gemeenskap raak te gesels.
“Ons het al verskeie gaste gehad op Pot Maak en Klets en elke persoon het iets uniek na die tafel gebring. Simon Witbooi, ook bekend as HemelBesem en Maurice Paige beter bekend as Tyronne van Suidooster het al saam gesels.
Ons gaan ook nou en dan na kleiner winkels in ons streek waar ons foto’s neem van hulle winkel en produkte en hulle bemark op ons Facebookblad,” vertel Matwan.
Daar is ‘n span agter die skerms en Gregg Bocks staan sy plek vol as koördineerder. “Ons wil meer van die plaaslike mense kry om hul stories te deel, maar sien ook baie uit om mense van ander dorpe te betrek.

Denvan Bocks en Ettiene Matwan van Pot Maak en Klets.