Matzikama Veiligheidsberaad 2022

Berig en foto: Emma Boonzaier

KLAWER: Klawer Gemeenskapsforum vir Veiligheid en Ontwikkeling en ander rolspelers saam met lede van die gemeenskap het Maandag, 27 Junie by Klawer Gemeenskapsaal die Matzikama Veiligheidsberaad vir 2022 gehou.
Die doel van die vergadering was om misdaad en veiligheid in Klawer te bespreek, asook geslagsgeweld, justisie sake en onopgeloste saakdossiere, openbare werke sake, veiligheid op nasionale paaie en maatskaplike dienste.
Rolspelers teenwoordig was onder andere burgemeester Johan van der Hoven, SAPD lede van regoor die streek, lede van AfriForum buurtwag, verteenwoordigers van Transnet, dominee John Holtzhausen van die NG Klawer, jeug van Ebenhaeser en provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid en polisietoesig, Reagan Allen.
Die verrigtinge het afgeskop met Nieuwoudt Primêr se trompoppies en kadette wat ‘n vertoning gelewer het.
Die gemeenskap is aangemoedig om afbrekende uitlatings te vermy en eerder opbouende kommentaar te lewer sodat oplossings makliker gevind kan word.
Lede van die gemeenskap het die probleme wat Klawer SAPD in die gesig staar onder die aandag van Allen gebring.
Die tekort aan polisielede en polisievoertuie, die stasie se kragopwekker wat buite werking is, sake wat aangemeld en vinnig weer uitgegooi word, is van die kwessies wat geopper is.
Die inwoners voel ook dat die meeste misdadigers nog op parool of borgtog is, wanneer hulle weer ‘n misdaad pleeg.
Die verrigtinge het baie ordelik verloop. Allen het die gemeenskap op elke kwelpunt terugvoering gegee en afgesluit deur te sê dat hy die SAPD wil aanspreeklik hou, maar voel ook dis belangrik vir die SAPD en die gemeenskap om saam te werk.