Die 4 km staproete (sedert 2016 uitgelê) begin by die Strandfontein Rotstuin (“maak dit jou trots”) en volg stapbordjies en klipstapels op grondpaaie en voetpaadjies deur Strandveld Sukkelente Karoo plantegroei wat ‘n deel van die Knersvlakte Bioom uitmaak. Fokuspunte langs die eerste deel van die roete sluit die Olifantsklip, ander Grotoorhange en Dassie speelgrond binne die Sandlaagte Rivierkloof in waar ‘n sytak van die Olifantsrivier vroeër uitgemond het. Dit word vertel dat Olifante destyds in die Sandlaagte omgewing rondbeweeg en teen die Olifantsklip hul grote lywe geskuur het. Die kloof verder aan is ook bekend vir sy Botterbome, Elandsvye en Namakwalandse blommeprag in die vroeë lente.
Die roete volg daarna Heldraaikloof op pad na Fryers Cove (die Hel). Hier is die pragtigste baaitjie omring deur loodregte kranse van ongelooflike kleure. Van die kranse is deur aardkragte gevorm om horisontale lae en loodregte gesteentes te vorm. Hier kan voete nat gemaak, maar ook geswem en gesnorkel word as die see kalm is. Dan volg die kort opdraend, Helsebult wat ‘n asemrowende uitsig van bo oor die Hel bied.
By die volgende afdraai, loop die roete al langs die kransrant wat deel van die Knersvlakte Bioom uitmaak. Kyk uit vir die lae sukkelente plantjies (Sentkannetjies, Conophytums en kleiner vetplantjies), terwyl die kranse al hoe hoër styg en die uitsig oor die see al hoe mooier raak. Hierdie is ‘n uiters sensitiewe omgewing wat beslis bewaringstatus verdien. Verder bied die deel van die roete ‘n pragtige uitsig oor Strandfontein tot so ver as die Olifantsriviermond wat naby Papendorp uitmond. Ideale plek om daardie makro fotografie te neem en die unieke kuslyn van bo af te bewonder en op fotos vas te lê.
Die kransbaken word daarna besoek wat op ‘n 30meter hoë krans geleë is. In die winter maande wanneer die see baie rof is, slaan die branders bokant die kranse uit. Hierdie deel van die roete is ook n baie spesiale sonsonder geleentheid en die uitsig van Karelshoek se Baai oor ruwe kransrante in die rigting van Doringbaai beslis asemrowend. Langs die hoë kransrante is daar ook verdere stapvoetpaadjies en (grondpaaie-slegs trapfietsryers) wat tot in Doringbaai loop, terwyl geduldige hengelaars hierlangs die kranse trotseer om daai vissie uit te trek.
Die roete maak ‘n draai by die Wandelende Walvis Labirint wat destyds deur die plaaslike gemeenskap opgerig is en van die eerstes aan die Weskus was. Verderaan is daar ook ‘n kort afdraai na ou onbekende grafte, heelwaarskynlik van die destydse diamand myn en kalkfabriek werkers wat jare gelede hier langs die kus gewerk en gewoon het.
Die roete volg dan ‘n grondpad wat as die Strandveld loop bekend staan en draai links weg op ‘n voetpaadjie en volg dan ‘n roete oor Kransaalwynkop. Hier kan kransaalwyne, veldkool, wilde malvas, crassula barkleyii en groot vingerpolle van naderby beskou word. Hierna sak die roete tot onder in die kloof vir ‘n paar tree en dan kom die laaste opdraend aan die beurt. Die opdraend is na Spike, die Jack Russel vernoem omdat dit sy geliefde roete na die Hel toe was vir sy daaglikse swem. Bo-op die plato loop die roete terug na die Rotstuin verby die grond waar die bekende Strandfontein Hotel destyds gestaan het en waar een ou hekpilaar steeds pryk.
‘n Unieke staproete met ‘n groot variasie van besienswaardighede/fokuspunte en ‘n moeilikheidsgraad van 2, wat aan elke lid van die gesin se verwagtinge sal voldoen.
Navrae Lehan en Tania Fouche (Strandfontein) Tel no 0787430549/0721543887
Kontakbesonderhede: Strandfonteinsbv@gmail.com