CLAWS ervaar uitdagings tydens sterilisasie

Berig en foto: Mariaan Smuts

CLANWILLIAM: CLAWS het van 12 tot 14 Julie ‘n sterilisasieprojek by die skousaal aangebied. Die span het egter onder baie moeilike omstandighede gewerk. Voor die jaarlikse skou in April, is die saal herstel. Toe die CLAWS span Sondag, 10 Julie, by die saal kom, was dit weer geplunder. Daar is toegang tot die saal verkry deur die mure, vensters en dakplate en al die waterpype en kragdrade is gesteel. Die toilette het ook nie gewerk nie.
Jeanine Mitchell, wat al 12 jaar by die projek betrokke is, het probeer om ‘n ander lokaal vir die projek te bekom, maar niks was beskikbaar nie. Mitchell het ‘n kragopwekker vir die 3 dae gehuur en gelukkig het vriende ook een gebring omdat hul bang was die een sou nie so lank kon loop nie. Sy het water in 50 liter kanne van hul gasteplaas gebring en drinkwater gekoop sodat die veearts haar hande kon was en daar drinkwater vir die diere was.
Toe die span Dinsdag reg was om te begin, het verdere chaos hulle getref. Een van die verlengstukke het die narkosemasjien uitgebrand, die ligte het afgeslaan en ook die skeermasjien uitgebrand. Gelukkig het dokter Roos ‘n ekstra narkosemasjien gehad en Mitchell moes ‘n ander skeermasjien gaan koop om die diere se magies skoon te skeer voor die operasies kon begin. Hulle moes in ‘n baie koue saal werk en die komberse was vinnig nat. Gelukkig het ‘n maatskappy ingegryp en gehelp met die was van die komberse, maar die komberse was steeds te min of nie altyd betyds droog nie en na ‘n operasie moes hul die diere warm hou.
Mitchell sê na die uitbreek van distemper in 2021 het hul baie honde verloor, maar die wat ingeënt was het oorleef. Sy sê sy het in Mei, baie diere ingeënt en ontwurm om hul te beskerm tot wanneer die projek sou afskop, maar honde met brandsiek verkluim maklik in die winter as gevolg van die koue en die min hare wat op hul lywe oor is.
Haar verdere bekommernis is die groot aantal pitbull honde in die dorp. Die ras is ongelukkig makliker vatbaar vir distemper. Sy sê nadat die bywette in die Kaap ingestel is wat mense verbied om met die ras te teel, wil dit voorkom asof al hoe meer mense in kleiner dorpies soos Clanwilliam met die ras teel. Dit blyk dat mense meeding om die beste pitbulls te teel sodat hul meer geld vir die kleintjies kan vra.
Die span was dié jaar, behalwe vir ‘n paar, heeltemal nuut, maar almal het gou geleer en mooi saamgewerk. Dokter Annelize Roos en haar span, Caro Swarts en Sellina Mjijwa, van die Kaap het die sterilisasies en inentings gedoen. Ses en negentig katte en 70 honde is gesteriliseer.

Dokter Roos, haar span en die span van CLAWS en hul helpers neem ‘n vinnige blaaskansie vir die foto.