Berig: Annemarie Munnik
Foto: Verskaf
MATZIKAMA: Tydens die skoolvakansie vanaf 11 tot 14 Julie het Radio Namakwaland ‘n Advertensie Skryfskool aangebied. Hul het hoërskoolleerders van plaaslike skole in die omgewing uitgenooi om te leer hoe om ‘n radio advertensies te skryf, op te neem en te redigeer.
Die leerders het elke dag van 10:00 tot 13:00 by die radiostasie aangemeld om te help met Radio Namakwaland se Teleton advertensies.
Die leerders wat deelgeneem het, is Anke van Zyl (Hoërskool Vredendal), Jenicton Julies (Vredendal Senior Sekondêr) en Berné Nieuwoudt (Môrester Akademie).
Nieuwoudt, graad 11 noem sy het die skryfskool baie geniet en dat dit vir haar iets nuuts was. Sy noem dat daar so baie agter die skerms aangaan waarvan mense nie bewus is nie. Nieuwoudt sê met advertensies opneem moet dit meer as eenkeer opgeneem word, dan geredigeer word om die regte agtergrondklanke en die regte stemtoon te kry en dan word die beste een gekies. Sy het al voorheen op televisie verskyn. Sy sê net soos toneelspeel kry mens ook ‘n teks om jou woorde te leer. “Op radio moet jy met jou stem kan werk, mense moet van jou stem kan aflei jy’s kwaad of geïrriteerd, dis ‘n nuwe uitdaging” sê Nieuwoudt. Sy noem ook dat Radio Namakwaland se personeel baie vriendelik is, almal werk verskriklik hard. Sy sê dat sy en die ander twee leerders baie tuis gevoel het, of hulle al jare daar werk.
Van Zyl, ‘n matriekleerder voel dat die skryfskool insiggewend was, sy het dit baie geniet. Sy het ook besef dat daar baie meer agter die skerms aangaan as wat die publiek besef. Sy het baie geleer en sal dit definitief weer doen. Haar gunsteling deel was om die advertensies te skryf, want sy is mal oor skryf. Dit was ook vir haar lekker om buite haar gemaksone gedruk te word. Van Zyl noem sy stel baie belang in radiowese, maar wil graag eerder ‘n ondersoekende joernalis word. “Maar as die wind my daarheen waai, is ek oop daarvoor, ek dink dit is regtig iets wat iemand wat kreatief is, wat iets nuut wil doen moet probeer” sluit sy af.
Dit was vir Julies ‘n ongelooflike ervaring om te sien hoe alles agter die skerms gedoen word. Hy noem dat die personeel van Radio Namakwaland baie vriendelik is. Hy is dankbaar teenoor Elma Visagie, Martie Louise Hunlun en Megan Meiring wat die leerders gelei het. Hy oorweeg ‘n loopbaan in radiowese. Julies wil ander leerders aanbeveel om in die toekoms by die skryfskool betrokke te raak. Hy wil ook graag Radio Namakwaland bedank vir die geleentheid wat aan hul gebied is.
Dié radiostasie nooi graag luisteraars uit om tydens Teleton van 25 tot 31 Julie in te skakel om hierdie leerders se advertensies te hoor.
Anke van Zyl, Jenicton Julies en Berné Nieuwoudt.