Berig: Emma Boonzaier
Foto: Verskaf
LUTZVILLE: Johan en sy vrou, Jackie van Greuneun woon sedert 1992 op Lutzville. Baie inwoners van Lutzville het al heel moontlik vir Johan, wat blind is, sien stap met sy gidshond, Izzy. Omdat die sypaadjies warm, nat of gevaarlik kan wees vir ‘n hond se pootkussings, word gidshonde opgelei om gemaklik te wees om stewels te dra wat hulle kan beskerm.
Charlene van der Merwe, ‘n groot hondeliefhebber, het met die idee vorendag gekom om geld in te samel sodat daar nuwe skoene vir Izzy gekoop kan word. Van der Merwe is destyds deur ‘n moeilike tyd toe sy vinnig ‘n nuwe woning moes kry aangesien sy nie meer toegelaat was om al haar honde by haar huidige woning te hou nie. Die gemeenskap het gou ingespring om te help en sy hoef nie van enige van haar honde afskeid te geneem het nie, “My honde is my alles en hierdie is my manier om die gemeenskap te bedank vir wat hulle vir my gedoen het,” aldus Van der Merwe.
Die projek het genoeg geld ingesamel om ‘n ekstra paar skoene te koop. Izzy se skoene is 20 Julie bestel en behoort oor ‘n paar weke gereed te wees.
“Ons wil graag vir almal baie dankie sê wat bygedra het en dat julle die lewe vir my en Izzy makliker maak om te stap in ons dorp,” aldus Van Greuneun.
Motoriste word gevra om geduld toe te pas en versigtig te bestuur wanneer hulle vir Johan en Izzy in die straat nader. Izzy is al meer as een keer deur rondloper honde aangeval. Inwoners word gevra om seker te maak dat hulle honde nie hul erwe kan verlaat nie.
Izzy, die gidshond.