Berig: Adjudantoffisier Jannie Louw
Foto: Verskaf
VREDENDAL: ‘n Bekende vrou van Vanrhynsdorp het Woensdag, 20 Julie soos vele male vantevore weer deur Maskam Mall se winkels geblits om alles gedoen te kry.
Die lys was so lank soos haar arm en sy het net ‘n kort tydjie tot haar beskikking gehad. Die dame het van winkel tot winkel gehaas en kort voor lank was die trollie boordensvol. Noodgedwonge moes die een wit sak agter oor die handvatsel gehaak word. Noodlot het egter hier sy rol begin speel en dit was dan ook die sak waarin haar beursie was.
Die dame se tyd het uitgeloop en sy het haar gehaas na die voertuig, alles ingelaai en laat spat na die volgende afspraak. By die volgende afspraak het die nare waarheid haar getref. Sy het baie vinnig besef dat die beursie met die wit sak nêrens te vinde is nie. Die beursie het behalwe haar hele lewe, ook ‘n aansienlike bedrag kontant bevat wat bestem was vir betalings in die dorp.
Na ‘n wilde jaagtog terug na Maskam Mall was haar teleurstelling baie groot toe haar navrae by al die winkels nie haar sak met beursie kon oplewer nie. Terug in haar voertuig het die trane vrylik gevloei en het die dag baie donker vertoon.
‘n Kloppie aan die venster het egter alles in ‘n oogwink verander. Een van die sekuriteitsbeamptes by die sentrum, Nathan Blaauw het daar gestaan. Hy het die wit sak met die beursie gevind op die trollie na haar vertrek en dit ingehandig by die bestuur van die inkopiesentrum.
Die dame het alles in die sak en haar beursie teruggekry sonder dat daar een sent verlore is. Graag word Blaauw bedank vir sy eerlikheid en opregtheid in die uitvoering van sy pligte. Hy het ook ‘n aansienlike fooitjie ontvang uit dankbaarheid.
Blaauw is voorwaar ‘n trots en ‘n aanwins vir Maskam Mall.
Nathan Blaauw.