Berig: Emma Boonzaier
Foto: Verskaf
VREDENDAL: Cara Fick is dalk ‘n nuweling in Vredendal, maar dit vat slegs 10 minute se gesels om te sien dat sy nog diep spore gaan trap in die gemeenskap. Fick, ‘n geregistreerde dieetkundige en ook ‘n gekwalifiseerde “rebounding” (mini-trampolien oefening) instrukteur, was nog altyd geïnteresseerd in die kombinasie van dieet en oefening en hoe beide ‘n belangrike rol speel in ‘n gesonde leefstyl.
Sy het in Limpopo grootgeword, maar het haar skoolloopbaan in die Kaap voltooi.
In graad 10 het sy by ‘n praktyk skaduwerk gedoen en die koeël was deur die kerk – Fick het geweet dat sy eendag ‘n beroep in dieetkunde wil volg. Toe die tyd aanbreek om haar universiteitaansoek te voltooi, het sy nie eers ‘n tweede of derde beroepsopsie oorweeg nie. Sy het haar graad ontvang in 2016, waarna sy haar diensjaar in Brits gedoen het. ‘n Groot uitdaging wat sy ervaar het nadat sy haar studies voltooi het, is ‘n tekort aan beskikbare poste. Sy het vier maande na werk gesoek, maar het gedurende die tyd vrywillig gewerk by Karl Bremer Hospitaal. “Ek kon nie stilsit nie, dit sou my mal maak,” sê Fick.
Fick vind motivering by mense naby aan haar. “Ons vriendekring bestaan uit selfgedrewe, hardwerkende mense. Ek kyk ook baie op na my ouers wat al baie sukses bereik het in hul lewens,” sê Fick. Toe sy nog op skool was, was haar ma ‘n onderwyser by ‘n ander skool. Sy het ‘n foto van Cara in haar klas gehad en een van haar leerders het die foto gesien. Hy het besluit om haar deur Facebook te kontak. Lang storie kort, die twee is vandag al 10 jaar saam en het 7 maande gelede in die huwelik getree teen die Walviskus.
Nadat haar man werk gekry het op ‘n myn in die area, het hy vir ‘n jaar gependel tussen Vredendal en die Kaap, waar sy nog vir ‘n ander praktyk gewerk het. Later het die paartjie besef dat dit te duur raak en Fick het besluit om die Kaap te groet. “Ek was lus vir die uitdaging. Dis moeilik om te weet ek kan nie vinnig by my ma gaan kuier nie en ek vind nog my voete hier, maar die mense is baie vriendelik en verwelkomend. Ek is ook baie dankbaar vir die pasiënte wat my al kom sien het,”sê Fick. Sy vertel ook dat sy baie bevoorreg was as kind omdat haar familie amper deur die hele land getoer het. “Die enigste provinsie waar ons nie was nie, is die Noord-Kaap. So ek is baie opgewonde om naby te wees, sodat ek dit ook kan verken.”
Sy is baie lief vir die buitelewe, natuur en om aktief te wees. “Ek het in die Kaap deelgeneem aan CrossFit, maar ek hou van enige tipe oefening.” Sy is ook lief vir lees, musiek en sang. “Ek doen dit net nie genoeg nie,” sê Fick.
Sy sien haarself as baie selfgedrewe. Sy vertel laggend hoe haar man haar beskryf het as “’n masjien” op hul troudag, want sy is altyd besig met die volgende ding. “Ek is ‘n ‘overthinker’ en kan maklik angstig raak as gevolg van dit. Van die beste raad wat ek al ooit ontvang het is, ‘Vat een dag op ‘n slag’ en dit help my altyd om weer rustiger te voel – al moet ek dit ‘een uur op ‘n slag vat’. Behalwe vir haar “masjienvermoë” bewonder haar man ook haar wilskrag en lojaliteit.
Om haar eie praktyk oop te maak, het nie sonder uitdagings gekom nie. “Ek wens hulle wil studente meer leer oor daardie aspek van die beroep op universiteit. Ek het darem bietjie geleer by die vorige praktyk waar ek gewerk het, maar dit was steeds moeilik.” Sy het besluit om eerder kenners te huur om die administratiewe gedeelte te hanteer. “Dit kos my dalk geld, maar nou kan ek eerder my tyd en energie fokus op dit waarin ek goed is.”
Fick se gunsteling kos is ‘n Indiese of Thaise kerrie met ‘n vars naanbrood langs die kant, nog iets wat sy van die Kaap mis. Maar as die gesegde – “jy is wat jy eet” waar is, is daar beslis ook vriendelikheid, harde werk en inspirasie op haar spyskaart.
Cara Fick.