Eerlikheid en nederigheid speel ‘n groot rol

Berig: Annemarie Munnik
Foto: Verskaf

VREDENDAL: Dokter Annelou Roux het onlangs weer teruggekeer na Vredendal, om by dokter Mary van Niekerk aan te sluit.
Sy was nog ‘n klein dogtertjie toe sy die eerste keer geweet het dat sy ‘n dokter wou word. “Ek wou soos my oupa en ouma mense help en gesond maak,” sê Roux.
Sy het in Vredendal op ‘n plaas grootgeword en later gematrikuleer te Hoër Meisieskool Paarl, waar haar ma, Marlise Roux ook destyds gematrikuleer het. Daarna voltooi sy haar studies aan die Universiteit van Stellenbosch.
Sy is getroud met Ian Victor en uit die huwelik het hul ‘n 2-jarige dogtertjie, Nina en 5-jarige “seun” hul Golden Retriever, Rupert, glimlag sy.
Op laerskool is sy gediagnoseer met ‘n oogprobleem en dit het haar leesvaardigheid, spesifiek spoed, belemmer. Roux noem dat dit tydens haar studies uitdagend was, omdat die handboeke heelwat dikker is as op skool. Sy moes ekstra hard werk om haar leesspoed op standaard te kry.
Die grootste mylpaal in haar beroep was haar eerste privaat praktyk. Eerlikheid en nederigheid speel ‘n baie groot rol tydens haar konsultasies, en is haar beste eienskap.
Sy het juis besluit om ‘n privaat praksyn te word omdat haar passie by primêre sorg lê en voorkomende behandeling.
Aanvanklik wou sy lewenslank vir die staat werk, omdat daar so ‘n groot behoefte is. Roux se laaste twee jaar in die staat het sy egter gevoel sy is oorwerk en haar passie het weggekwyn. “Noudat ek privaat praktiseer, kan ek beter na myself kyk en daarom kan ek beter na my pasiënte omsien,” aldus Roux
‘n Staaltjie wat haar vir altyd sal bybly, is tydens haar studentejare toe hul geleer het om ‘n volledige ondersoek op pasiënte te doen. Sy was een dag besig om ‘n bejaarde pasiënt te ondersoek. “Toe ek by sy voete kom, was daar ‘n tatoeëermerk op sy een voet: ‘I am tired’ en op die ander voet: ‘ME TOO’,” vertel sy.
Roux noem sy is beslis ‘n buitelug mens. Sy geniet graag tyd saam met haar gesin en familie. Hulle stap graag saam in die veld of woel in die tuin. Hoe vind sy ‘n balans tussen haar gesins-en beroepslewe? “Dit is ‘n aktiewe besluit waaraan ek daagliks moet werk. Dit is vir my uiters belangrik om balans te handhaaf, anders ly albei,” aldus Roux.
Sy sluit af deur te noem dat “die beroep met al sy eie uitdagings kom, maar so lank jou hart daarin lê, is hierdie ‘n ongelooflike vervullende beroep.”

Dokter Annelou Roux.