Dis my wêreld dié

Berig: Emma Boonzaier
Foto: Verskaf

VREDENDAL: Seanene Tredoux is op 22 April 1977 in die Kaap gebore. Twee jaar later trek hulle Klawer toe. Haar ouers bly tot vandag toe nog in Klawer. Sy het haar skoolloopbaan by Hoërskool Vredendal voltooi en in 1995 gematrikuleer.
Vanaf graad 8 was sy oortuig dat sy fisioterapie wil studeer. Sy, wat die kind van ‘n dokter is, het nooit gedink sy sal self medies wil studeer nie. “Ek het ‘n pa geken wat altyd gewerk het. Maak nie saak watter tyd van die dag nie, as die foon gelui het, het my pa geantwoord en gaan werk. My pa het later nie meer gebraai nie, my ma moes braai,” sê sy.
Na skool studeer sy BSc, met die idee om in te kom vir fisioterapie. By ‘n fisioterapie opedag besef sy dat dis eintlik glad nie wat sy wil doen nie. Haar roeping is medies. “Dit was vir my ‘n groot omwenteling, want ek het altyd gesê ek gaan nooit doen wat my pa doen nie,” sê sy
Uit die groep van BSc studente is daar 22 gekeur om medies te gaan studeer en sy was een van hulle.
Vandag is sy baie dankbaar dat sy nie ‘n fisioterapeut geword het nie. “As jy vir my 20 jaar gelede gesê het ek gaan nou hier wees, sou ek vir jou gesê het: ‘Daar is geen manier nie!’” sê Tredoux.
Een van die 22 mediese studente sou later ‘n goeie vriend raak. In hulle derde jaar word hulle ‘n paartjie tydens ‘n besoek aan die Anatomiese Patologie Monstermuseum. Vandag is hulle 20 jaar getroud met twee seuns en werk saam in hul praktyk op Vredendal.
Tredoux en Almuir Heyns het hulle diensjaar saam in Oudtshoorn voltooi, waarna hulle vir ‘n jaar by Karl Bremer Hospitaal gewerk het.
“Dit was baie lekker gewees, maar vreemd was die boodskap hard en duidelik, ek moet terugkom Vredendal toe, en nou is ons al 16 jaar hier. Jou pad is vir jou uitgesit, jy stap hom soos hy kom.”
Tredoux verduidelik dat sy baie gelukkig is om in Vredendal te woon en dat sy baie lief is vir die omgewing en die mense. “Dis my wêreld dié,” sê sy, alhoewel sy haarself deesdae baie in die Paarl bevind. “Ons oudste seun is in Hoër Jongenskool. Ek en my man woon alles binne ons vermoë by. Ons ry vir elke rugby- of krieketwedstryd moontlik. Ons was al hierdie seisoen tot in Bloemfontein, George, Langebaan, Paarl, Stellenbosch en omliggende skole,” sê Tredoux.
Behalwe vir haar gesin, word sy gemotiveer deur die gedagte dat sy elke dag kan opstaan en weet sy kan ‘n verskil in ander mense se lewens maak. Maar baie pasiënte het onwetend al ‘n groot verskil in haar lewe gemaak. Van die beste raad wat sy al ooit ontvang het, is dat dit ‘okay’ is om nie ‘okay’ te wees nie. “Jy is net ‘n mens. Jy mag foute maak. Jy kan weer probeer,”sê Tredoux.
‘n Groot uitdaging was om te leer om nie almal se seer saam met haar huis toe te neem nie. “Jy moet afstand kan hou sodat ander se seer jou nie beïnvloed nie. Dis vir my moeilik. Ek kry swaar as mense swaar kry,” sê sy. Die Covid-pandemie was vir haar ‘n baie moeilike tyd toe almal masker moes dra en sosiale distansiëring moes toepas. “Skielik kon ek nie meer mense se gesigsuitdrukkings sien of ‘n drukkie gee waar dit nodig is nie. Dit het al die vreugde uit my werk geneem,”sê Tredoux.
Tredoux verduidelik sy vind dat mense glo dat dokters baie geld verdien. “’n Dokter kry dalk nie swaar nie, maar jy sit soveel van jouself in jou werk,” Daar is baie ander beroepe waarin ‘n persoon meer geld kan verdien. Die voordeel van medies is dat daar soveel onderafdelings is om in te werk. “As jy nie wil sny nie, dan hoef jy nie. Jy kan konsulteer of navorsingwerk doen. Daar is baie ander opsies om van te kies. Dit is net verskriklike lang ure. Die werk is nie ‘glamorous’ nie. Dis belangrik om te weet dat jy werk met ander mense se seer, en jy moet gereed wees om dit te kan doen,” waarsku Tredoux.
“Ek is baie lief daarvoor om TVreekse te volg saam met my man. Ek is ook lief vir diere en spesifiek ons 2 doodles, Finn (‘n Borderdoodle) en Sawyer (‘n Goldendoodle) en die straatkat Minki.
Niks is lekkerder as om my seuns gelukkig en aktief te sien nie. “Dis ‘n voorreg om die wêreld deur hulle oë te beleef,” sluit Tredoux af.

Seanene Tredoux.