Ek geniet elke oomblik van my lewe

Berig en foto: Annemarie Munnik

VREDENDAL: Elna Esterhuyse is ‘n vrou van vele talente en haar hande staan vir niks verkeerd nie. Esterhuyse is al 41 jaar ‘n fisioterapeut. Haar praktyk het Maandag, 1 Augustus 29 jaar oud geword.
Sy was agt jaar lank ‘n dosent by die Universiteit van Stellenbosch se Tygerbergkampus, tot haar tweeling gebore is. Sy is oorspronklink van Oranjemund en het daar grootgeword en later in Moorreesburg aan Hoërskool Dirkie Uys gematrikuleer. Omdat sy in die Namibwoestyn grootgeword het, het sy nie kans gesien om haar dogters in die stad groot te maak nie. Van die stad af het sy en haar man, Johan na Aggeneys verhuis waar hul drie jaar gewoon het. Daarna het die gesin van vier hul wortels in Vredendal kom vestig.
Esterhuyse het eers BA studeer om ‘n prokureur te word, maar sy het gou besef sy soek “iets met meer om die lyf” en het oorgeskakel na fisioterapie en aan die Universiteit van Stellenbosch gegradueer. Sy het ook later haar meesters in Gesondheidswetenskappe in Onderwys voltooi.
Sy noem toe sy gegradueer het, is fisioterapeute nog gesien as tegnici, maar sy was nooit ingestel op die salaris nie. Sy noem hul mag glad nie geadverteer het nie, “jou naam op die venster en telefoonnommer in ‘n gids was al blootstelling wat jy gekry het. Dit was oneties om te adverteer. Die werk wat jy doen moes jou advertensie wees.” Sy noem dat dit was ‘n uitdaging om te adverteer toe sy later toegelaat is. Sy moes leer om te adverteer.
Een van die vele uitdagings wat sy gehad het, maar wat later ‘n groot leerervaring was, was toe sy ‘n pasiënt uit Oekraïne behandel het. Hy was gestrem en kon nie daar fisioterapie ontvang nie. ‘n Kerk-groep het gehelp dat sy hom vir ses maande kon behandel. Sy noem dat dit ‘n uitdaging was om hom te verstaan. Omdat sy so lief is vir tale, het sy leer Russies praat om hom beter te verstaan en ook met hom en sy ma te kommunikeer. “Dit was ‘n ongelooflike ervaring,” aldus Esterhuyse. Sy is versot op haar werk en die uitdagings wat dit elke dag bied. Sy lag en sê as sy dit in die hemel kon doen, sou sy dit eendag daar ook wou doen. Dis vir haar ‘n ongelooflike bevredigende werk.
Esterhuyse sê dat fisioterapeute moet lief wees om met mense te werk, en mens moet kan wyer kyk. Hul moet ook eerlik kan wees met pasiënte sonder om die pasiënt mismoedig te maak.
Sy het die wonderlikste man en twee kinders, en spog ook met twee kleinkinders. Haar familie het deel gevorm van die groot mylpale in haar lewe. Die mylpale wat sy behaal het, is te veel om op te noem, “maar dis alles uit genade.” Esterhuyse noem dat sy ‘n Suid-Afrikaanse netbalskeidsregter is, dis ook een van haar groot mylpale.
Esterhuyse het op ‘n stadium ‘n wantroue in kollegas gehad, maar sy sê dat sy nie een dag spyt is dat sy vir Mia van Zyl aangestel het nie. “Ek is verknog aan hierdie kind, sy is soos my eie dogter.” Sy noem dat sy gereeld studente gehad het wat internskap gedoen het, en sy was op almal hard, want dis nie aldag ‘n maklike beroep nie. Die internskappe was vir haar lekker, “want dit hou mens op jou tone,” voeg sy by.
Sy is tans besig met ‘n boek. Hierin vertel sy verskeie staaltjies wat gedurende haar loopbaan gebeur het. Sy noem dat iets wat haar altyd sal bybly, waaruit sy geleer het, is dat hier baie persone in die omgewing is met dieselfde vanne. Sy noem hulle het vinnig geleer om nie net die voorlettter voor die naam te skryf nie. Een keer het hul drie persone met dieselfde van op dieselfde tyd geboek. Sy moes vinnig spring om die pasiënte gelukkig te hou. ‘n Ander geval, wat meer ernstiger is, was toe ‘n graad 3 pasiënt per ongeluk een van haar tande raak geskop het. Die klein ongelukkie het later operasies nodig gehad.
Esterhuyse het op ‘n keer ‘n motiveringspraatjie vir ‘n groep vroue gelewer. Een ding het gelei tot ‘n volgende, en dis hoe sy 23 jaar later steeds by Radio Namakwaland is, waar sy Kuier en Kultuur, en Terapie vir die siel insetsels het. Sy geniet haar taal en is nie net lief vir tale nie, maar ook vir kultuur. “Ek geniet dit, en dit raak deel van mens se DNA.”
Van haar ander belangstellings is nie net netbal nie, maar sy het ook al 50 halfmarathons voltooi. Sy doen dit op haar eie spoed, en neem sommer foto’s langs die pad. Sy hardloop ook weekliks parkrun en ry graag fiets. Sy het ook klopdans aangebied, en bak ook graag. Sy hou van kreatief wees, sy hekel en brei ook baie graag, “dis goeie handterapie.” “Ek is mal oor die natuur, ek is lief vir die lewe, daar is soveel om te geniet,” lag sy. Sy sê sy hou nie van slaap nie, “don’t waste good time,” want sy hou nie van stilsit nie. “As ek eendag by die poorte van die hemel kom en die Here vra vir my hoeveel talente het ek om terug te gee, dan gaan ek sê ek het niks nie, want ek het almal opgebruik.”
Sy spandeer baie tyd aan haar praktyk, sy sê nie maklik nee nie, haar praktyk is haar prioriteit. Die dag toe sy ‘n les geleer het tussen haar werk en haar gesin, is die dag toe haar kinders, toe nog klein, vir haar gesê het dis nie lekker om saam met haar see toe te gaan nie. “As ons by die see stap, dan kan mamma nooit stap sonder dat mense vir mamma vra oor ‘n rug of ‘n nek nie. Dan kan mamma nie hoor wat ons sê nie.” Dis toe sy besef het hul moet nie plaaslik vakansie hou nie, want dan kan sy nie ordentlik afskakel nie.
Sy is versot op haar werk en mense. Dis vir haar bevredigend as sy sien hoe van haar pasiënte na behandeling genees het. Sommige behandelings het die pasiënte se lewe drasties op ‘n positiewe wyse verander.
Sy sluit af deur te sê sy sal stelselmatig terugstaan vir die jonger geslag om te floreer in fisioterapie, en sal graag ‘n mentor wil wees, maar sy sal nie sommer aftree nie. “Ek sal in my hart tot die dag van my dood ‘n fisioterapeut wees,” sluit sy af.

Elna Esterhuyse.