My werk voel nie vir my soos werk nie

Berig en foto: Mariaan Smuts

CLANWILLIAM: Die sprankelende, Janova Baadjies, is ‘n boorling van Victoria-Wes en het in 2008 aan die Victoria-Wes Akademie gematrikuleer. Sy het in 2011 haar graad in Fisioterapie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Sy het twee jonger boeties, waarvan die oudste medies studeer het en die jongste een is ‘n onderwyser.
Na haar studies, in 2012, keer sy terug na die Noord-Kaap vir haar Zumajaar in Kimberley. Sy het van 2012 tot 2013 die Noord-Kaap SA skolespan as fisioterapeut verteenwoordig. Dieselfde twee jare het sy ook as fisioterapeut by die Griekwa rugbyspan gewerk. Sy moes in die Noord-Kaap bly om haar studieskuld af te werk. Na die twee jaar is sy na Douglas in die Noord-Kaap waar sy 4 jaar vir die staat in Douglas en die omliggende dorpe gewerk het.
In Februarie 2017 bedank sy die pos en begin haar eie praktyk in Douglas. Sy het 1 keer ‘n week na Hopetown en 1 keer ‘n maand na Victoria-Wes gery om kliënte te sien. Sy gee ‘n verleë laggie en sê dan het sy sommer by haar ouers vir die naweek gekuier omdat sy hulle baie gemis het. Die praktyk het sy vir 4 jaar baie suksesvol bedryf.
Baadjies se droom was altyd om ‘n praktyk aan die Weskus in Vredenburg oop te maak omdat die dorp en area vir haar goeie herinnerige ingehou het. As familie het hulle altyd vakansies daarheen gegaan en ook baie tyd in Tietiesbaai deurgebring. As gevolg van baie inbrake in die area het almal haar afgeraai om daar ‘n praktyk oop te maak.
Toe was haar keuse tussen Vredendal en Clanwilliam. Na baie bid en oordenking het haar keuse op Clanwilliam geval. Op 4 Januarie 2021 open sy haar nuwe praktyk in die Spar sentrum. Later verskuif sy na ‘n groter perseel in dieselfde gebou. Vanaf Mei 2021 ry sy 1 keer ‘n week Lambertsbaai toe om pasiënte daar te sien.
Sy huur ‘n woonstel in die dorp en geniet dit om kos te maak. Omdat sy nie diere mag aanhou nie, bly haar pitbull-kruising, Max, by haar vriend. Sy is lief vir oefening en was ‘n kranige atleet op skool. Sy gaan stap gereeld saam met ‘n vriendin, ook in die veld of berge. Sy hou ook van haar stiltetyd en lees geestelike boeke of doen aanlyn kerkdienste in haar vrye tyd.
Sy sê sy wou eintlik baie graag in die regte studeer, maar in graad 8 het haar ma haar aangeraai om liewer op fisio te konsentreer omdat syself op skool so baie sportbeserings in atletiek opgedoen het. “Ek is nie ‘n oomblik spyt dat ek in die rigting studeer het nie. Ek kan elke pasiënt emosioneel en geestelik help. Ek hou meer daarvan om een tot een te werk as in ‘n groep,” sê Baadjies.
By navraag of sy nog enkellopend is, lag sy diep uit haar maag en sê sy en haar boeties is te beroepsgeoriënteerd om nou al te trou. “My werk voel nie soos werk nie, want elke dag bied my ‘n geleentheid om siele na die Here te bring en ek geniet al my pasiënte se stories en gee raad waar ek kan”, sê sy.

Jenovan Baadjies by haar spreekkamer.