‘n Apteker met deursettingsvermoë

Berig: Mariaan Smuts
Foto: Verskaf

CLANWILLIAM: Petro Bower is ‘n boorling van Malmesbury en het in 2014 saam met haar tweelingsussie aan Hoërskool Swartland gematrikuleer. Daardie jaar was daar 150 matrikulante in die skool. Hulle ander sussie is ‘n laatlam en is tans in graad 9 by dieselfde skool.
Sy hou baie van sport en was ‘n kranige atleet. Sy het aan die 800m, 1 500m en 5 000m items deelgeneem. Sy het ook landloop gedoen en netbal gespeel. “Ek was nie so goed met netbal nie, maar was na die SA’s met landloop en het Boland kleure met atletiek verwerf,” sê Bower.
Na matriek het sy van 2015 tot 2018 aptekerswese in Potchefstroom studeer. “Ek het baie huis toe verlang, maar dit was alles die moeite werd”, sê sy.
Gedurende ‘n vakansie in 2016 by haar ouerhuis, het sy haar toekomstige man ontmoet. Haar ouers se buurman het die Desembervakansie iemand gesoek om vir ‘n paar dae as stoelassistent uit te help in sy tandheelkunde praktyk. Bower het aangebied om die werk te doen. “Toe assisteer ek al die tyd my toekomstige man”, sê sy met ‘n breë glimlag. Januarie moes sy terug na Potchefstroom en het hulle mekaar so oor afstand leer ken.
Aptekers moet ‘n interne jaar en ‘n gemeenskapsjaar voltooi. “Ek was baie gelukkig om my interne jaar in 2019 by Dischem in die Paarl te doen. Daar het ek pre-sies geleer wat ‘n apteek moet wees en wat al die moets en moenies is.” Sy sê vir haar was dit die beste plek waar sy alles kon vaslê wat sy vir 4 jaar in Potchefstroom geleer het.
In November 2019 is sy met haar tandarts en groot liefde, Stephan de Swardt, getroud. Sy het haar gemeenskapsjaar in Moorreesburg by Heyns Apteek voltooi. De Swardt sê: Dit was nog ‘n wonderlike apteek wat enige apteker se droom is om voor te werk”. Stephan het Vredendal toe getrek en die paartjie het mekaar maar min gedurende die week gesien. Aan die einde van 2020 kon sy uiteindelik by haar man in Vredendal aansluit en het hul twee weer ‘n normale huwelikslewe gehad.
In Mei 2021 het sy by Sederkem Apteek in Clanwilliam begin werk en moes sy vir 9 maande elke dag van Vredendal na Clanwilliam en terug ry. “Dit was nie altyd lekker om die pad te ry nie, veral in die wintermaande met die mis oor die Olifantsrivier. Nou bly ons gelukkig in Clanwilliam”. Stephan het die NoMad Mobiele tandheelkunde trokkie waarmee hy ‘n groot area besoek. “Clanwilliam se spesiale mense het sommer vinnig diep in my hart gekruip”, sê sy.
Die egpaar het twee Spaniëls. De Swardt geniet dit om te draf, maar Stephan is nie ‘n drawwer nie.
Petro draf gewoonlik vooruit terwyl Stephan met die twee Spaniëls aan hul leibande agterna stap omdat die twee oral wil snuffel en snuif. Die egpaar word gereeld oor naweke opgemerk met hulle twee dierekinders.
“Niks van wat ek bereik het sou moontlik gewees het as dit nie vir die Here se genade, goedheid en guns was nie. Ek is Hom ewig dankbaar, want ek beoefen ‘n beroep waarvoor ek baie lief is”, sê sy.

Petro de Swardt toe sy haar graad verwerf het.