Berig: Mariaan Smuts
Foto: Verskaf
CLANWILLIAM: Therese Nieuwoudt het in 1978 aan die Hoërskool Outeniqua in George gematrikuleer. Haar pa was ‘n bosbouer en die kinders het wonderlike kinderjare gehad met die natuur altyd deel van hul lewe. Na matriek studeer sy juweliersontwerp in Stellenbosch omdat edelstene altyd een van haar passies was. Sy ontmoet haar man, Pierre Louw, in Stellenbosch en die twee trou in 1982. Hulle verhuis na Clanwilliam waar Pierre op Therese se grootouers se klein familieplaas, Krakadouw, begin boer. “Ek het nooit ‘n beroep as juwelier beoefen nie, want ek het gou besef dat mans op die platteland liewer hulle geld op ‘n boorgat of ‘n spilpunt spandeer as om ‘n knoets van ‘n ring vir sy vrou te laat maak”, sê Louw.
Louw het jare gelede Weigh Less klasse op Clanwilliam, Graafwater en Lambertsbaai aangebied. Gedurende die tyd het sy die storie agter mense se gewigsprobleme begin raaksien en besef dat oorgewig soms net die oortjies van die seekoei is. Dit het haar belangstelling in mense geprikkel. Die psige van die mens en natuurlike gesondheid was ook twee van haar passies.
Op die plaas was hul omring deur die pragtige Cederberge. Hulle het 3 selfsorg gastehuisies wat sy in 1990 begin bedryf het, toe daar nog betreklik min akkommodasie op plase aangebied is. So kon sy ‘n ekstra inkomste genereer deur met mense te “boer”, terwyl hulle twee dogtertjies om haar voete kon speel. Louw sê sy was bevoorreg om voltyds ma te wees.
Die kinders het aan ALG gematrikuleer en op Stellenbosch verder gaan studeer. Sy het gewag tot die tyd reg was om weer self voltyds te gaan studeer en het die Body Stress Release (BSR) kursus gaan doen. Die akademie is in die pragtige Tuinroete tussen Wildernis en Sedgefield geleë. Sy het haar finale eksamen geskryf toe sy 50 jaar oud was. “Dit was ‘n heerlike ervaring om te besef dat ek nog op daardie ouderdom ‘n uitstekende student kan wees. Moet jouself nooit onderskat nie,” sê Louw.
Vanaf Oktober 2010 is sy ‘n voltydse BSR praktisyn in Clanwilliam. Haar spreekkamer op die dorp was in ‘n lieflike sentraal geleë tuin, maar tydens die inperkings moes sy ernstige besluite neem, want sy kon nie praktiseer nie. Met Pierre en die familie se ondersteuning en finansiële hulp, verskuif sy haar praktyk na hulle plaas waar sy vir haar ‘n heerlike werksplek ingerig het. “Ek besef dat ek van my ouer kliënte “verloor” het omdat almal nie graag 12km plaaspad ry nie, maar vir my ander gereelde kliënte en ook die nuwes wat ek bygekry het, glo ek dat die heerlike vars plaaslug en die pragtige berge hul stres sommer al langs die pad laat verdwyn,” sê Louw.
Mense met rug- en nekpyn, spanning of besering gaan na haar toe. “Ook mense wat herstel na operasies kom graag sodat ons heling kan aanhelp,” sê sy. Baie mense wat ernstig is oor hulle gesondheid word ook haar gereelde kliënte, bloot omdat hulle die voordeel van ‘n gereelde stresontlading in die liggaam verstaan en ervaar. “Ek glo ook dat dit baie ongesteldhede kan voorkom deurdat dit jou immuniteit versterk,” beklemtoon sy.
“Alhoewel ons tegniek in BSR baie sag is, is dit baie effektief omdat dit die liggaam aanmoedig om homself te genees, eerder as om dit terug in balans te forseer. Met hierdie tegniek gee ons die senuweestelsel ‘n kans om weer oral te funksioneer. Dit is soos die liggaam se berading; die liggies kan nie oral brand as daar iewers ‘n draadjie toegedruk word nie. Dit is ideaal vir almal van babas tot bejaardes, siek en gesond. Selfs swanger vroue vind groot baat hierby. Ons het wonderlike resultate met babas en jong kinders,” sê Louw. Sy moet, soos al haar kollegas in BSR, elke jaar werkswinkels bywoon om seker te maak hulle bly op hoogte van alle nuwe verwikkelinge.
Om liggaamstres en emosionele stres te verminder of te bestuur is een van die maklikste dinge en kos gewoonlik baie min.
“My boodskap aan vroue is om in hulself te glo en te weet jy is tot alles in staat, maar behou jou intieme vroulike natuur om te versorg en te troetel, met een voorwaarde dat dit nooit ten koste van jouself mag wees nie. As mens rustigheid, vrede en eenvoud begin lewe, sal jy mense aantrek wat ook hierdie benadering volg en so ook diegene wat smag daarna, maar nie weet hoe nie. Soms moet mens ‘n leier word hierin. My pa het altyd gesê: “bewaar jou vrede.” Ek verstaan dit al hoe beter,” sê sy.
Therese Louw in haar praktyk op die plaas.