Barnard vind genot in haar werk

Berig en foto: Annemarie Munnik

VREDENDAL: Esther Barnard, van The Laser and Skin Clinic en dogter van dokter Awie Thomas, het ‘n jaar gelede saam met haar gesin na Vredendal teruggekeer.

Na sy in 2002 aan Hoërskool Vredendal gematrikuleer het, het sy gasvryheidbestuur in Gqeberha studeer. Daarna het sy weer teruggekeer en deur haar pa wat ‘n meestersgraad in laser het, verder studeer in dié rigting. Sy het ook, onder andere, ‘n Kanadese ‘master class’ gedoen in elektrolise en termolise deur die Beautique Academy.

Barnard is getroud en het drie kinders, waarvan die oudste 21, in Johannesburg woon waar sy tans studeer. Haar ander twee kinders is in Hoërskool Lutzville.

Barnard noem sy het haar man in Pretoria ontmoet. Hy het in Noordwes grootgeword en ken glad nie die area nie. Hulle is buite mense en baie lief vir die see. Hulle het hegte familie-en vriendskapbande en kuier gereeld saam. “Ons is nogal redelik “close knit,”” noem sy.

Sy noem sy wou graag die volgende Jamie Oliver word, maar op daardie stadium was die mark oorvol. Jy moet of jou eie plek hê om geld te maak en dit is verskriklike lang ure en nie die ideale omstandighede om ‘n gesin te begin nie. Sy noem dat daar ‘n groot gaping in die mark is vir laserbehandeling, spesifiek pynterapie en omdat haar pa dit reeds doen, het sy die geleentheid aangegryp.

Behalwe vir pynterapie, doen die kliniek ook laser-haarverwydering, velverjonging, behandel pigmentasievlekke, robynvlekke, velverbruining en dermaplaning. Barnard noem dat dit vir haar plesier verskaf om die resultate van die verskeie behandelings te sien en hoe suksesvol die pynterapie is.

Sy noem dat een van die uitdagings wat hul in die gesig staar is dat die voete min is by die kliniek. Sy glo dat die word wel nog sal versprei, dat pasiënte nie nodig het om Kaap toe te gaan vir behandeling nie, maar sommer dit plaaslik sal doen. Hulle kan presies hier doen wat ander klinieke daar sal doen. “Dis meer persoonlik hier,” glimlag sy.

Een van die groot mylpale wat hul bereik het in die kliniek, is dat hul die eerste kliniek in die land was met die Swaav haarverwyderingsmasjien. Sy en haar pa bied ook namens Sci-Vision, die maatskappy wat die masjien in Suid-Afrika verkoop, opleiding aan op die masjien. “Ek dink nogal ons as ‘n klein dorpie doen goed,” aldus Barnard.

Sy sal dit definitief vir die jonger geslag aanbeveel omdat daar tans so groot geleentheid in die land is om die beroep te volg. “Lasers is nog relatief nuut op die oomblik, maar dit wat ons kan doen daarmee is net absoluut amazing, en ek dink die tegnologie verbeter by die dag,” sluit sy af.

Esther Barnard.