Steilhoogte Opvoeder presteer by NTA

Berig en foto: Verskaf

KLAWER: Juffrou Frances de Kock, ‘n opvoeder aan Steilhoogte Primêr het op 9 September, ‘n toekenning ontvang as die naaswenner in die Kategorie vir Uitnemendheid in die onderrig van Natuurwetenskappe. Die kategorie het nie spesifiek gegeld vir laerskool of hoërskoolonderrig nie en daarom is haar prestasie soveel te meer besonders.
Die toekenningsgeleentheid vir Wes-Kaap, wat bestaan uit nege onderwysdistrikte, is deur die WKOD aangebied te Century City Conference Centre. Dit is deur 88 deelnemers, Brent Walters (Hoof van onderwys Wes-Kaap), David Maynier (Minister van Onderwys Wes-Kaap) en die Premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, bygewoon. Die geleentheid is regstreeks gestroom (livestream)en skole en medepersoneel kon saam die verrigtinge van die aand meemaak. Wenners van die verskillende provinsies sal later die jaar met mekaar meeding by ‘n geleentheid, aangebied deur die DBO.
Deelnemers moes ‘n elektroniese aanbieding (Powerpoint) voorberei, wat as bewyse dien vir projekte aangepak in hul leerarea en ook antwoorde verskaf vir algemene vraagstukke waarmee sy of haar skool daagliks mee te kampe het. Laasgenoemde is aan ‘n paneel by die CTLI voorgelê. Daarna is onderhoude ook met elke deelnemer gevoer.
Steilhoogte Primêr is baie trots op De Kock met haar prestasie, maar ook dankbaar vir die blootstelling wat aan hierdie klein plaasskool in die Matzikama verleen is. So ‘n geleentheid skep bewusmaking op allerlei vlakke en wanneer meer opvoeders uit ‘n kring of distrik deelneem aan so ‘n groot geleentheid, is die blootstelling net soveel meer.

Alan Winde (Wes-Kaapse Premier), Frances de Kock, David Maynier (Minister van Onderwys Wes-Kaap) en Brent Walters (hoof van Onderwys Wes-Kaap).