Berig: Mariaan Smuts
Foto: Verskaf
LAMBERTSBAAI: Natasha du Preez-Strauss, ‘n Lambertsbaaier en eienaar van Wynland Lenings in die dorp, het op Sondag, 18 September, aan die Weymouth Ironman 70.3 kompetisie in Engeland deelgeneem.
In 2021 was sy ‘n vrywilliger by die Ironman kompetisie. Die moordende kompetisie is ‘n driekamp waar deelnemers 1.9km swem, dan dadelik op hul fietse klim en 90km daarmee aflê en dan daarna ‘n halfmarathon (21.5km) draf. Dit alles geskied binne 8 uur en dertig minute.
Du Preez-Strauss sê sy was van kleintyd af gefassineer met die Ironman en dit was altyd ‘n groot droom van haar om dit dalk eendag te doen. Haar dogtertjie, Elizabeth, is 6 jaar oud en sy wou vir haar wys dat ‘n mens enige iets kan doen as jy hard werk daarvoor.
Sy het in ‘n stemboodskap gesê: “Ek het altyd die mense dopgehou en gedink hulle is “crazy” en nou is ek een van die “crazy” mense”. Sy noem haarself nie ‘n Ironman nie, maar ‘n Ironma.
Sy het 6 maande nadat sy vrywillige werk vir die Ironman gedoen het, finaal besluit om in te skryf en te begin oefen. Dit was harde werk, gesond eet, baie gimnastieksessies en sy het die laaste 6 maande 4:00 opgestaan om te oefen. Sy het ‘n oefenprogram gevolg, baie boeke gelees en ‘n paar korter driekampe gedoen as voorbereiding vir die Ironman.
Du Preez-Strauss sê die weer in Engeland was perfek. Dit was windstil en sonnig en alles het mooi saam gespeel. Sy kon die 1.9km swem in 41 minute voltooi, die 90km fietsry in 3:37 uur en die draf in 2:42. Haar totale tyd was 7:16:49. Die afsnytyd was 8 uur en dertig minute. Sy het 29ste uit die 33 deelnemers in haar afdeling geëindig. Daar was natuurlik baie meer deelnemers as 33. Haar plek in die vroue afdeling was 333ste uit 407 vroue en algemeen 1 784ste uit die totaal van 2002 deelnemers.
Du Preez-Strauss sê: “Dit was wonderlik om Suid-Afrika te kon verteenwoordig, maak nie saak waar mens in die wêreld is nie, dit is lekker om trots Suid-Afrikaans te wees”. Sy sê verder haar dogtertjie glo altyd sy wen die kompetisie, so sy het die Ironman Weymouth 70.3 vir haar gewen.
Du Preez-Strauss sê dit was vir haar ‘n “amazing experience” veral nadat hul haar naam genoem het toe sy oor die wenstreep hardloop en die aankondigers sê sy kom van Suid-Afrika. Die beste was toe sy Francel net buite die hek sien met ‘n Suid-Afrikaanse vlag.
“Baie dankie aan almal wat my so wonderlik ondersteun het, veral my gesin, Elizabeth en Francel”.
Natasha du Preez-Strauss met die Suid-Afrikaanse vlag.