Young Roslyns Rugbyklub kraai koning

Berig en foto: Verskaf

EBENHAESER: Young Roslyns Rugbyklub is laat in die seisoen deur Boland Rugby Unie aanvaar in die streek uitdaagkompetisie. Die uitdaging was groot omdat daar twee klubs was wat reeds in die groot uitdaagkompetisie gespeel het, en ook in die liga speel.
Die klub se eerste wedstryd was teen een van dié spanne, Young Blues van Citrusdal. Young Roslyns het die wedstryd verloor. Vandaar het die spelers hulle staal gewys en in die ander wedstyde baie beter gevaar. Aan die einde van die eerste ronde was hul tweede op die punteleer. Daarna het die spelers hul koppe opgelig en beter spelpatroon gehandhaaf onder die leierskap van die hoofafrigter, Tony Skippers en die spanbestuurder, John Don.
Met die aanvang van die tweede ronde het die span van krag tot krag gegaan en hul spelpatroon verbeter. Die spelers het met meer oorgawe begin speel en reeds teen die middel van die tweede ronde was die spelers vol vertroue dat hulle die knoop kan deurhak en as wenners uit die stryd kon tree. Die spanning was hoog in die pylvak met spanne soos Red Stars, Aurora, Young Blues en Attackers van Graafwater en ook Young Diggers en Young Roslyns wat moes veg om die eersteplek.
Young Roslyns het die eersteplek reeds vroeg verseker toe hulle Attackers op hul eie bodem klop.
Die bestuur wil al die borge bedank wat gedurende die seisoen bydraes gelewer het wat gelei het tot die klub se sukses. Die span berei tans voor vir die Top 14 kompetisie wat die 22ste Oktober afskop. Meer inligting sal later deur Boland Rugby Unie bekend gemaak word.

Die Young Roslyns Rugbyklub saam met die bestuur.