Nasionale wenner uit ons streek

Berig en foto: Verskaf

VREDENDAL: Die Nasionale Erkenningstoekennings van die SA Raad vir Sakevroue het op Saterdag, 22 Oktober by die Diaz Hotel in Mosselbaai plaasgevind. Die plaaslike wenner vir die Community Warrior-kategorie, Sunet Anderson is aangewys as die nasionale wenner in hierdie kategorie en die Wes-Kaap as die Provinsie van die Jaar! Hester du Bruyn, voormalige president van die SARSV wens al die deelnemers geluk met die prestasies.
Sunet Anderson is die projekkoördineerder van die Jala Peo-tuinprojek vir die Weskusdistrik. Sy hou daarvan om haar ondervinding in onderrig, projekbestuur en die menslike hulpbronne te integreer met haar passie en persoonlike belangstelling in gesondheid en welstand. Sy het onlangs ‘n kleinhoewe in Koekenaap gekoop om groente organies te begin verbou. Haar huidige studies van grondherlewing deur “Soilfoodweb” sal daar toegepas word en verder na skole uitgebrei word deur die beste praktyk met hulle te deel.
Sy vind die Jala Peo-inisiatief ‘n geleentheid waar sy haar vaardighede, ervaring en passie kan herlei om deel te wees van ‘n groter beweging wat ‘n impak het op die welstand en toekoms van kinders in haar plaaslike gemeenskap.
Die Weskus Jala Peo-inisiatief koördineer die vestiging en ondersteuning van 25 skoolvoedseltuine in die Matzikama- en Cederberg-gebiede, insluitend ongeveer 11 000 leerders. Hierdie skoolkos- en voedingtuine is daarop gemik om die skoolvoedingsprogram aan te vul en om as ‘n buiteklaskamer vir kurrikulumintegrasie gebruik te word. Leerders verkry kennis en vaardighede van gesonde eetgewoontes en voedseltuinmaak in die proses en die status van landbou word verbeter.
Die SACBW Matzikama-tak is baie trots op hul bydrae om as die Provinsie van die Jaar aangewys te word. Sakevroue en entrepreneurs is welkom om by die organisasie aan te sluit. Besoek die ​​webwerf www.sacbw.org of kontak Chantell Booyse by
Matzikama@sacbw.org of 082 612 4644.

Hester du Bruyn (voormalige president, SARSV), Sunet Anderson (nasionale wenner) en Chantal Booyse (streeksbesigheidsleier, Weskus).