Berig: Mariaan Smuts
Foto: Verskaf
LAMBERTSBAAI: Baie goeie nuus vir Lambertsbaai, net so voor die vakansie aanbreek, is dat CapeNature bevestig het dat Voëleiland weer van Donderdag, 1 Desember, oop gaan wees vir besoekers aan die dorp.
Petro van Rhyn van CapeNature het bevestig dat hul vir die afsienbare toekoms gaan oop wees. “Ons is nog besig met werk in terme van opgradering en die mooi maak van die binnekant van die gebou, maar dit sal so min moontlik en net ‘n dag hier of daar se sluiting beteken. Dit sal beslis nie langtermyn wees nie. Ons is baie opgewonde om weer oop te wees”, sê Van Rhyn.
As die enigste toeganklike plek ter wêreld om Kaapse Malgasse te sien broei, is Voëleiland ‘n voëlkyker se paradys. Die eiland se skuilplek is perfek geleë om die voëls se aktiwiteite eerstehands waar te neem en meer oor hul broeigewoontes te leer. Ander voëls op die eiland sluit die Kaapse kormorant en die kelpmeeu in.
Wanneer besoekers by Voëleiland aankom, is die ooglopende trekpleister die blou-oog Kaapse Malgasse. Besoekers moet seker maak hul besoek ook die fassinerende museum waar hul baie verskillende seesoogdiere en seevoëlskelette kan waarneem. Daar is ook voorbeelde van die Kaapse pelsrob, donker dolfyn en natuurlik Polly, die lewensgrootte suidelike walvis.
Die eiland wat amper 3 hektaar groot is, is met ‘n breekwater paadjie met die vasteland verbind. Dit is ‘n belangrike broei- en slaapplek vir seevoëls. Kaapse pelsrobbe kan gesien word waar hulle op die eiland se rotse in die son bak.
By die eiland se goed geleë malgas uitkykpunt kan besoekers die voëls van naby sien en hul unieke paringsdanse aanskou. Die voëlskuiling verskaf interessante inligting oor die seevoëls en hul gewoontes. Daar is bordjies regoor die eiland wat agtergrond inligting oor die Weskus se voëls verskaf.
Besoekers moet versigtig wees wanneer hul oor die breekwater paadjie stap. Toegang tot die eiland is verbode wanneer die see te rof raak omdat dit gevaarlik vir besoekers kan wees.
Trekduikers.