Berig en foto: Mriaan Smuts
LAMBERTSBAAI: Joseph Sobekwa, ‘n inwoner van Elandsbaai, is ‘n man wat swaarkry ken. Sy ma het hom en sy ouer suster gelos om hul eie paadjie te loop en Sobekwa het dit sy missie gemaak om self na hom en sy suster om te sien. Die twee kinders was in Steynville in Piketberg in die skool. Hy was net in graad 6, maar het planne gemaak sodat hulle albei matriek kon voltooi. Hy het die hoof gevra of hy by die koshuis skyfies mag verkoop en met daardie geld kon hy sy suster help om matriek te slaag, waarna hy met sy verkope ook in 2002 matriek kon slaag.
Sobekwa het vir lank in Lambertsbaai in sy motor geslaap omdat niemand hom wou werk gee nie. In 2003 kry het ‘n tydelike werk by Cederberg Munisipaliteit. In 2005 word hy aangestel as algemene werker, toe as trekkerbestuurder, later as spanleier en nou is hy ‘n voorman by die munisipaliteit.
In 2006 help hy sy familie in Elandsbaai om Sobekwa Vervoerdienste op die been te bring en word die Sobekwa Trust onder die familienaam gestig. Met die verskuiwing van Hoërskool Graafwater na Lambertsbaai het die staat ‘n kontrak aan die skool gegee om leerders te vervoer. Die skool het die Sobekwa Trust gekontrakteer. Die vervoerdiens moes hoërskoolleerders van omliggende dorpe na en van die skool vervoer aangesien daar nie ‘n koshuis vir hulle in Lambertsbaai is nie.
Sobekwa Trust se vervoerdiens ry nou leerders van Elandsbaai, Graafwater, Swartboskraal, Sandberg, Leipoldtville en Wadrif na Hoërskool Lambertsbaai en namiddae weer terug. Alhoewel Sobekwa nie lid van die trust is nie, behartig hy die familie se boekhouding. Die Sobekwa Trust het nou 7 busse en 4 minibussies waarmee hul skoolgaande kinders vervoer.
Sobekwa het met die aanvang van die nuwe skooljaar opgemerk dat minder kinders van veral Elandsbaai van die busdiens gebruik maak wat beteken hulle gaan nie skool toe nie. Hy skryf dit toe aan die feit dat die Elandsbaaiers nie geld het om die kinders se R600 skoolfonds per jaar te betaal nie. Die ouers van Elandsbaai is afhanklik van die visbedryf en omdat daar nou geen vis is om te vang nie, maak hul staat op hul maandelikse toelae van die staat. Indien ‘n leerder se skoolfonds as ‘n eenmalige bedrag betaal word, kry die ouers R100 afslag, maar dit het nog nie die ouers se las ligter gemaak nie.
Sobekwa Vervoer het toe ingegryp en besluit om 278 hoërskoolleerders se skoolfonds vir die jaar te betaal. Dit was ‘n gesamentlike besluit deur die Sobekwa Trust. Lede van die trust voel deur die ouers te help, dit ook hul besigheid aan die gang sal hou en dat hul weer eendag op ‘n ander manier hul deel sal kry.
Die ouers is bewus van die feit dat dit slegs vir die jaar geldig is. Sobekwa sê omdat hy as kind self swaargekry het, verstaan hy die hartseer van die ouers omdat hul nie geld het om hulle kinders skool toe te stuur nie. Veral kinders wat nie meer ouers het wat vir hulle kan sorg nie, kry baie swaar. Hy voel ander besigheidsmanne en vroue moet kyk wat hulle kan doen of bydra om ‘n beter lewe vir die kinders te verseker.
Joseph Sobekwa in sy kantoor.