Clanwilliam dogter ontvang studiebeurs

Berig: Mariaan Smuts Foto: Verskaf

CLANWILLIAM: “I have a dream, a song to sing …” was die liedjie wat Frances Hendricks in haar eerste ComNet-konsert gesing het. Hendricks, ‘n boorling van Clanwilliam met ‘n engelstem, het verlede week met die opening van die nuwe skooljaar by die splinternuwe Cape Choral Academy op Stellenbosch begin skoolgaan. Sy het verlede jaar graad 7 by Sederberg Primêr voltooi. Sy het vir haarself ‘n beurs los gesing vir haar skool- en koshuisgeld vir die res van haar skoolloopbaan.
Hendricks het van haar voorskoolse dae vir die plaaslike dramagroep, ComNet, in konserte gesing. In 2016 het sy in die Stap Saam-konsert, waaraan sowat 100 plaaslike inwoners van Clanwilliam deelgeneem het, vir die eerste keer ‘n solo vir ComNet gesing. Saam met haar het ‘n voorskoolse koortjie van sowat 80 kleintjies opgetree.
Hendricks moes drie strawwe oudisies aflê om aanvaar te word in die eerste groep van 40 kinders tussen 9 en 14 jaar oud wat verlede week by die Cape Choral Academy begin skoolgaan het. Dit is nie ‘n gewone skool nie. Die skool het vanjaar vir die eerste keer sy deure oopgemaak vir diegene met uitsonderlike musiektalente. Die skool se doel is om leerders in ‘n kreatiewe omgewing, ‘n breë en “mindful” perspektief van die lewe te leer. Mentors sal ‘n groot rol speel in die lewens van die leerders en daar sal natuurlik gefokus word op die hoogste standaard van musiekopleiding, volgens hulle webwerf.
Hendricks se lewe was nie altyd maklik nie, want sy het verlede jaar haar pa tragies aan die dood afgestaan. Hy was altyd by elke konsert waar Hendricks opgetree het. Hendricks en haar ma, Sharlotte, het ‘n besonderse verhouding en Sharlotte het baie ure ingesit om Frances te help met haar voorbereiding vir die sangstukke wat sy by konserte moes sing.
Volgens Sharlotte is daar ‘n paar ander leerders uit die streek wat ook daar begin skoolgaan het. Die meisie in die kamer langs Hendricks, Chrislynne Swarts, is van Wupperthal. Frances en Chrislynne het elkeen hulle eie kamer in die koshuis. ComNet en die gemeenskap wens hulle alles van die beste toe en hoop om hulle weer eendag op die verhoog in Clanwilliam te hoor sing! “Vasbyt en maak gebruik van julle groot kans,” sê haar destydse afrigter, Alicia Erasmus.

Frances Hendricks met diplomas wat sy by Sederberg Primêr ontvang het.